Kollig op Maties Sport

Deur Anica Hattingh

26 Mei 1950 – Boksers

Oor die naweek van 19 Mei het ses boksers aan die Interuniversitêre Kampioenskappe in Johannesburg deelgeneem. Ten spyte daarvan dat die Junie-eksamens om die draai was en drie van hul gewone staatmakers nie kon deelneem nie, het die span steeds goed gevaar. Vier van die ses “klein maar stoere Matie-boksers” het tot die eindrondes deurgedring. Hennie Louw, ’n middelgewig, het vir ’n “eersterangse verrassing” gesorg toe hy P. van Aswegen, die 210 lb.-Pretoriase swaargewig-kampioen, in die derde ronde met ’n tegniese uitklophou verslaan het.

Twee “klein maar stoere Matie-boksers” durf mekaar in ’n bokswedstryd aan. Verkry: Die Matie-argrief

21 April 1988 – Teleurstelling

In 1988 berig Johan Viljoen, ’n Die Matie-joernalis, oor die Matie-atlete se prestasie by die Suid-Afrikaanse Senior Atletiekkampioenskappe. Die artikel vertel hoe die Maties – gewoonlik titel- en rekordhouers – dié jaar teleurstellend gevaar het. Van die 24 Maties wat aan die kampioenskap deelgeneem het, kon slegs een, Elana van Zyl, ’n goue medalje verower. Sy het die 3000 m-wedloop in ’n gemaklike tyd van 9:13,50 sekondes voltooi en daarmee ook haar plek in die Springbokspan verseker. 

Johan Viljoen berig in 1988 oor die teleurstellende prestasie van die Matie-atlete by die Suid-Afrikaanse Senior Atletiekkampioenskappe. Verkry: Die Matie argrief

24 Februarie 1999 – Gholf

Die Matie berig dat die Universiteit Stellenbosch (US) se gholfklub een van sy suksesvolste jare nóg beleef het en “homself as een van die sterkste gholfklubs in die land bewys” het. Van 30 November tot 4 Desember 1998 het die span deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse Universiteitstoernooi (SAU) en van die 96 individuele spelers het die Matiespan onder die eerste 26 geëindig. Nie net het hierdie groep mans reeds ’n dag voor die toernooi sou eindig die kompetisie gewen nie, maar drie van hulle – Jaco Spies, Mark Brown en Gerlou Roux – is ook gekies vir die SAU span. Scott Sullivan is as reserwespeler aangewys.

22 September 2010 – Gekies

Volgens ’n artikel, wat deur Die Matie in 2010 gepubliseer was, het die US as gasheer vir die Nasionale Paralimpiese Spele opgetree. Ongeveer 350 atlete uit agt provinsies het aan die Spele deelgeneem, wat ook as keuringsgeleentheid vir die Suid-Afrikaanse span gedien het. Die berig beklemtoon dat die universiteit se Sportprestasie-instituut (SUSPI) die geleentheid aangebied het om gestremde sport verder te ontwikkel en meer blootstelling te gee. Die artikel weerspieël hoe die US reeds in 2010 ’n belangrike rol in die bevordering van inklusiewe sport en Paralimpiese deelname in Suid-Afrika gespeel het. 

10 Mei 2023 – Maties roei

Anakin Curtis berig in Die Matie dat dat Maties Roei hul beste uitslae in meer as ’n dekade by die USSA-R Sprints behaal het. In die artikel het Klubpresident, Dylan Schmidt, gesê dat dié prestasie “die beste resultate in meer as ’n jaar” was, wat die span se harde werk en toewyding weerspieël het. Die artikel lig ook die individuele prestasies van Lee-Anne Cundill en Campbell White uit, wat albei vir die gesogte Grudge Crew gekwalifiseer het. White het sy verbasing oor dié prestasie uitgespreek en gesê: “Ek was baie verras om in te kom, laasjaar het geen Matiesroeier dit gemaak nie.” Die berig sluit af dat die sukses nie net momentum vir die res van die seisoen geskep het nie, maar ook die groeiende gemeenskap en toekoms van Maties Roei beklemtoon het.

Related Articles

spot_img
spot_img