Deur Jacolette Kloppers
Dertig jaar gelede het die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) die amptelike gedragskode van Die Matie op 7 Desember 1995 goedgekeur. Dié gedragskode bly een van Die Matie se belangrikste meganismes vir regulering en selfregulering. Naas die Perskode van Suid-Afrika bied dié dokument kernriglyne waaraan lesers Die Matie se joernalistieke standaarde kan meet.
In ’n tyd waarin die media (veral die koerantwese) onder beleg is, disinformasie en waninformasie soos veldbrande versprei, kitsnuus hoogty vier, goedkoop politiek en korrupsie die norm geword het, en influencers dikwels vir die publiek meer waarde inhou as joernaliste, is dit belangriker as ooit dat die pers sy taak met groot erns bejeën. Dit is naamlik om die nuus so gebalanseerd, ewewigtig, feitelik korrek en genuanseerd as moontlik te rapporteer – eerlik, onverskrokke en verantwoordbaar – hetsy dit mense kwaad maak, irriteer, grief of ontstel, of nie.

Met die bekragtiging van die gedragskode deur die Raad, die hoogste gesagsliggaam aan die universiteit, het ’n nuwe tydperk vir Die Matie aangebreek ná jare se redaksionele inmenging, sensuur, en die afdanking of skorsing van redakteurs wanneer sekere menings of berigte die universiteit nie aangestaan het nie.
Vir Die Matie, ’n studentekoerant wat in die dampkring van Afrikaner nasionalisme, apartheid, wetlike beperkings op kreatiewe uitdrukking en persoonlike vryhede (van politiek, godsdiens tot seksualiteit), en verkramptheid moes probeer om sy lesers behoorlik in te lig, was die verkryging van grondwetlike regte alles behalwe vanselfsprekend.
Danksy die totstandkoming van ’n demokratiese Suid-Afrika, het die winde van verandering egter ook op Stellenbosch begin waai en kon die borstrokke afgeruk word. Dit was dus onvermydelik dat die wyse waarop Die Matie deur die owerhede hanteer word met grondwetlike waardes moes belyn.
Dit is belangrik om Die Matie se hedendaagse posisie te kontekstualiseer. Die Grondwet van Suid-Afrika, wat vanjaar 30 jaar oud is, waarborg vryheid van uitdrukking en mediavryheid in Artikel 16. Die US Statuut van 2019, “die grondwet van die US”, is onderworpe aan dié Grondwet. Op sy beurt word die US se Studentegrondwet van 2021 ook gerig deur sowel die US Statuut as die Grondwet van Suid-Afrika. Afdeling 2 (Die handves van studenteregte) waarborg vryheid van uitdrukking en spesifiek ook die vryheid van die studentemedia.
Gevolglik is die aanhef tot Die Matie se gedragskode goud werd: Hierdie gedragskode gee uitvoering aan die volle ondersteuning van die Raad van die Universiteit Stellenbosch en die Studenteraad vir die beginsel van persvryheid ten opsigte van amptelike studentepublikasies en die wisseling van menings deur middel van sodanige publikasies op ’n wyse kenmerkend van ’n universiteitsgemeenskap en die tradisies van die Universiteit Stellenbosch. Hierdie gedragskode erken egter dat die Universiteit uiteindelik regtens en finansieel verantwoordelik is vir wat in Die Matie verskyn en hoewel die Raad so min moontlik inbreuk wil maak op redaksionele onafhanklikheid, is die Raad regtens verplig om die finansiële belange en die goeie naam van die Universiteit Stellenbosch te beskerm.
‘Ondersoek die etiese kode’
Prof. Andreas van Wyk, toe rektor van die US, het op 1 Maart 1994 aan die sogenoemde Butler-komitee, onder leiding van prof. D.W. Butler van die Departement Handelsreg, opdrag gegee om die “etiese kode van Die Matie en die afdwinging daarvan te ondersoek”.
Dit was glo spesifiek die eerstejaarsuitgawe in Februarie 1994, waarin Die Matie ’n foto van naakte mansstudente gepubliseer en gratis kondome saam met die koerant versprei het, wat die rektor genoop het om die Butler-komitee in die lewe te roep.
Die Matie is daarvan beskuldig dat hy “’n gekkeparadys van morele waardes op die kampus” gemaak het, ’n Christen-vereniging het gevra vir die afdanking van die redakteur, Willem Kempen, en sommige koshuise het hulle hele oplaag teruggestuur. Die rektor het destyds aan Die Burger gesê die redaksie het “swak smaak en swak oordeel” geopenbaar en dat die saak opgevolg sou word. Verskeie hoofstroomkoerante het berig oor studente se ontsteltenis oor die naakfoto’s en gratis kondome asook dat die universiteit ’n ondersoek na die voorval sou loods.
Die Burger het op 21 Februarie 1994 berig Die Matie het ’n “opgeskorte vonnis” gekry wat behels het dat die universiteit se subsidie aan Die Matie, voortgesette publikasie van Die Matie en die “verdere funksionering van Die Matie se redaksie” gestaak sou word. Die vonnis is egter opgeskort op voorwaarde dat Die Matie ’n duidelike verskoning op sy voorblad publiseer – wat Die Matie wel op 24 Februarie 1994 gedoen het.

Die Butler-komitee het vir die eerste keer op 15 April 1994 vergader om ’n werkswyse te bepaal waarna die lede van die werkgroep aan die volledige komitee sou terug rapporteer met voorstelle.
In dieselfde tydperk wat die Butler-komitee reeds met hulle werksaamhede besig was, het Die Matie op 14 September 1995 ’n omstrede anonieme lesersbrief en rubriek gepubliseer wat die rektor genoop het om ’n verdere komitee aan te wys om hierdie spesifieke voorvalle te ondersoek – met reperkussies vir die redaksie.
Die universiteitsraad het die betrokke brief en rubriek op hul vergadering van 18 September 1995 bespreek en gesê dit is geskryf “op ’n negatiewe wyse wat as neerhalend en lasterlik beskou kan word”. Die Matie se redakteur en die betrokke skrywers het skriftelike verskonings aangebied, maar dit “was weens die voorwaardelike aard daarvan nie vir die rektor aanvaarbaar nie”.
Op 22 September 1995 het Die Burger berig die SR “hoop Die Matie kan soos alle onafhanklike koerante funksioneer, met die gepaardgaande verantwoordelikhede”.
Die Matie het op sy voorblad van Donderdag 12 Oktober 1995 verskonings deur die skrywers van die betrokke brief en rubriek gepubliseer. Luidens die redaksionele kommentaar is die verskonings op die voorblad geplaas “op aandrang” van die rektor en viserektor. Die redaksie het gemeen die koerant se reg op vryheid van spraak was net so groot soos die rektor en viserektor se reg op ’n verskoning. Die voorbladfoto van dié uitgawe het egter bestaan uit ’n tikmasjien waarin ’n vel papier was met die woord “gesensor” groot bo-oor getik.
In Die Matie se redaksionele kommentaar van 12 Oktober 1995 is gevra dat “besin” moet word oor die “voorgestelde gedragskode” omdat die behoefte aan ’n “oop en kritiese gesprek […] op kampus” duidelik geblyk het “uit die oorweldigende reaksie op Die Matie se ‘onderonsie’ met die rektoraat”.
Die Matie het geskryf: “Die vraag moet gevra word of die gedragskode geldigheid en legitimiteit kan hê en of dit gerugsteun word deur die demokratiese proses van deursigtigheid en die volle steun van die dosente- en studentegemeenskap geniet. ’n Gedragskode kan maklik as ’n vorm van sensuur ingespan word en het dus wye implikasies.”
In dieselfde uitgawe het Die Matie ’n artikel gepubliseer “Hoe vry behoort die pers te wees?”. Prof. George Claassen, tóé hoof van die Departement Joernalistiek, is aangehaal waar hy sê Die Matie se gedragskode moet “verkieslik net soos in die mediawêreld daarbuite, deur die media se eie liggaam toegepas word”.
Op 18 Oktober 1995 het Matie-studente op die Stellenbosch-kampus betoog uit protes teen die manier waarop Die Matie deur universiteitsbestuur behandel is. ’n Versoekskrif het aangedring op “verdraagsaamheid soos dit aan ’n universiteit verwag word”.
Volgens die notule van die US se raadsvergadering wat op 20 November 1995 gehou is, is daar in die laaste vergadering van die Butler-komitee “konsensus bereik oor ’n gedragskode vir Die Matie. Die Raad [het] die vertroue dat die instelling van die Butler-komitee se aanbevelings verantwoordelike joernalistiek op die kampus sal bevorder”.
Op 7 Desember 1995 het die US Raad toe tydens ’n vergadering van die uitvoerende komitee die Butler-komitee se verslag aanvaar. Daarvolgens is ’n gedragskode vir Die Matie in werking gestel.
Joernalistieke beginsels

Afdeling 1 van die gedragskode, wat handel oor die inhoud van Die Matie, beklemtoon Die Matie se persvryheid. Dit beklemtoon ook drie belangrike joernalistieke beginsels, naamlik akkuraatheid, verantwoordelikheid en eerlikheid.
Die Butler-kommissie se verslag wat voor die Raad gedien het, het dit gestel dat die universiteit die vryheid van die pers ondersteun en “ook ’n groot mate van redaksionele vryheid vir die redaksie van Die Matie erken”.
Aldus die verslag het Die Matie die reg om besluite of beleid van die universiteitsbestuur te kritiseer, maar dit moet “billik” en “regmatig” gebeur. Indien kritiek gelewer word of in die geval van verskille met die bestuur, moet dit gebalanseerd gedoen word en nie “onnodig sensasiewekkend” of “eensydig” wees nie. “Dit is veral waar die berig kwaadwilliglik geplaas word juis om die goeie naam van die universiteit te beskadig, dat optrede teen Die Matie verwag kan word.”
Die Matie moet dus kan bewys dat “redelike stappe geneem is” om bewerings en feite te toets.
Jacolette Kloppers was redakteur van Die Matie in 2001. Haar magistertesis in die joernalistiek het gehandel oor die regulering en selfregulering van Die Matie sedert 1995. Sy is die stigter van Die Matie Studentekoerant Trust.



