Dís hoe die fakkel bly brand het toe Suid-Afrika ingeperk was

Carla Briers, Redakteur van Die Matie 2020/2021

Daar is party keerpuntdae in die geskiedenis waarvan jy die verreikende trefkrag eers later besef. 

Een daarvan is president Cyril Ramaphosa se televisie-uitsending op 23 Maart 2020. In dié uitsending het hy aangekondig dat Suid-Afrikaners in hul huise moet bly vanaf middernag op 26 Maart 2020, en net mag uitgaan om kos en medisyne te koop, mediese sorg te kry of om hul sosiale toelae te kry. 

Carla Briers werk tans as deel van ’n groep vrywilligers wat ’n Facebook-nuusblad begin het om die nuus in 13 plaaslike dorpe in die Noord-Kaap te dek ná die sluiting van die gemeenskapskoerant in 2025. Foto: Carla Briers

“Hoewel hierdie maatreël ’n beduidende uitwerking op mense se lewensbestaan, ons samelewing en ons ekonomie sal hê, sal die menslike koste daarvan om hierdie optrede uit te stel, baie, baie groter wees,” het die President gesê.

So, net soos die res van Suid-Afrika wat in hulle huise moes bly, moes Die Matie se kantoordeur vir eers sluit op 26 Maart 2020. Die vraag wat ons onsself gevra het: Hoe lyk ’n studentekoerant sonder studente op kampus? 

Die Matie tydens die pandemie

Al kon ons net mekaar op skerms sien en in WhatsApp-boodskappe of deur oproepe met mekaar praat, het ons genoop gevoel om te doen wat Die Matie nog altyd gedoen het en een van joernalistiek se belangrikste funksies uit te uit te voer: Ons moes geskiedenis dokumenteer. 

Al was dit nie noodwendig die maklikste nie, en al sou ons dit eerder om die groot tafel in ons rooi kantoor wou doen, het die stories oor ons sleutelborde geblits vanuit waar ons deur die res van Suid-Afrika versprei was. Ek, (toe nog die inhouds- en nuusredakteur) was op ’n plaas in die Noord-Kaap, ons redakteur (Lian van Wyk) in Ceres en van ons ander spanlede oral van Brackenfell tot Port-Elizabeth. 

 ’n Strokiesprent oor die COVID-19-pandemie deur die Studentelewe-redakteur van 2021. Strokiesprent: Kezia Daniels

Maar ons was deel van geskiedenis, ons het selfone en skootrekenaars gehad, en ons kon en ons wou die stories vertel. 

Die eerste van ’n hele rits webwerfstories was die Universiteit Stellenbosch se “noodlanding” soos ons dit destyds genoem het om dit moontlik te maak vir studente om aanlyn te leer.

Stories van hoe dit was in 2020 het gevolg: elkeen daarvan stukkies van ’n kaleidoskoop van perspektiewe van hoe ’n siekte in China ons lewens hier in Suid-Afrika handomkeer verander het. 

Terug kampus toe

Ons kon teruggaan kampus toe (met maskers natuurlik) aan die begin van 2021, en op Woensdag, 24 Maart 2021 (byna presies ’n jaar ná die inperkingsaankondiging) het Die Matie sy eerste uitgawe van die tagtigste jaargang gepubliseer.

Wat gevolg het was ’n besonderse jaar waaruit van my mooiste vriendskappe en beste stories gespruit het, al het ek partykeer ná ’n lang Dinsdag (sakdag) en met net drie ure se slaap die volgende dag in die joernalistiek-honneursklas gaan sit. 

Net soos die joernalistiek wat ons in 2020 en 2021 gepleeg het die stories vertel van lewe tydens ’n historiese siekteplaag, so kon ons ook in Die Matie se argiewe gaan oplees oor die stories wat Die Universiteit Stellenbosch maak wat dit vandag is.

En met dié ryk skatkis vol stories uit Die Matie se argiewe, die bydraes van oudredaksielede, en die harde werk van ’n besonderse redaksiespan van 2019/2020, het ons span die voorreg gehad om op 23 Augustus 2021 die tagtigste gedenkuitgawe van Die Matie te publiseer.

Vir ander mense mag dit dalk “net ’n koerantjie” wees, maar dit is ’n manier om seker te maak studente word gehoor, en om ’n gebalanseerde platform te wees waarop hulle dit kon doen. 

Die Matie by die 2020-Varsitybeker. Dominique Fuchs en Carla Briers sit by twee Springbok Sewesspelers. Foto: Brynley van Aardt

Behalwe vir die belangrike rol van joernalistiek om in te lig, om magspersone verantwoordbaar te hou, om ’n publieke forum te wees en om vermaak te bied, is daar iets anders in besonders wat vir my saak gemaak het: Stories, veral dié wat nie van die hardste stemme af kom nie, is deel van die sosiale weefsel van ons samelewing. Dit help ons om begrip te hê en om mekaar beter te verstaan, en koerante (al is dit in aanlyn vorm) vertel dit op ’n manier wat sosiale media nie altyd regkry nie. 

Dit is hoekom my wens vir Die Matie is om vir nog baie jare sy stories te laat voortleef deur die strate, kampusgeboue en koshuisgeboue, al is dit aanlyn of op sosiale media: sodat studente gehoor kan word. 

Baie geluk met 85 jaar, dit is die grootste voorreg om deel van Die Matie se storie te kan wees, en mag die fakkel nog vir baie jare bly brand!

Related Articles

spot_img
spot_img