Deur Zandri van Greunen
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), die mees omvattende verklarende woordeboek van Afrikaans, is vanjaar ’n honderd jaar oud.
Die samestelling van die woordeboek trek tans by die letter V, maar die eerste volledige uitgawe – wat die hele Afrikaanse woordeskat alfabeties van A tot Z insluit – sal eers in 2028, ná 102 jaar se werk, voltooi wees. Daarna begin die samestellers weer van vooraf om die woordeboek by te werk soos die Afrikaanse taal verder ontwikkel.

Anders as die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), wat hoofsaaklik die algemeenste woorde en uitdrukkings vir alledaagse gebruik opneem, “poog die WAT om Afrikaans in sy wydste omvang te dokumenteer,” het Maryna Adshade, junior mederedakteur van die WAT, vir Die Matie gesê.
’n Eeu se woordwerk
Die WAT het sedert sy ontstaan ’n noue band met die Universiteit Stellenbosch (US). Hoewel die woordeboek eers in 1926 tot stand gekom het, het die idee vir ’n omvattende Afrikaanse woordeboek reeds in 1914 op Stellenbosch posgevat.
Sedertdien het die Buro van die WAT op Stellenbosch ontwikkel vanaf ’n woordeboekprojek vir Afrikaans tot die Nasionale Leksikografie-eenheid vir Afrikaans. Die WAT is vandag een van die elf amptelike woordeboekeenhede wat onder die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) funksioneer. Elkeen van hierdie eenhede is verantwoordelik vir die dokumentering van een van Suid-Afrika se elf amptelike gesproke tale.
Dr. Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, sê die US se ondersteuning van die WAT is nie net ’n belegging in Afrikaans nie, maar ook in Suid-Afrika se nasionale leksikografieprojek.
Tydens ’n besoek aan die WAT het Louw ook die WAT se kluis aan Die Matie gewys, wat sowat 3,5 miljoen indekskaartjies stoor. Hierdie kaartjies is oor dekades deur vrywilligers van regoor Suid-Afrika ingestuur en bevat woorde, gebruiksvoorbeelde en bronverwysings uit sowel gesproke as geskrewe Afrikaans. Louw het gesê hierdie kaartjies vorm steeds die grondslag van die WAT se leksikografiese werk.
Afrikaans en al sy variëteite
Louw het gesê die WAT is “veel meer as net ’n woordeboek”. Hy het dit beskryf as ’n “enorme houer van kennis” wat die volle spektrum van Afrikaans dokumenteer en bestaan uit al Afrikaans se variëteite en registers. Dit sluit byvoorbeeld in Kaaps, Gariepafrikaans, Karoo-Afrikaans en Afrikaans as akademiese vaktaal.
Adshade het gesê die WAT moet sover as moontlik “vir almal plek maak”. Daarom word “streekstaal, sleng, vaktaal, verskillende taalvariëteite en minder algemene leksikale items waarvoor genoegsame taalbewyse bestaan” ook in die WAT opgeneem.
“Dit is een bron waar elke liewe Afrikaanssprekende sy of haar taalgebruik weerspieël kan sien,” het Louw gesê. Hy het bygevoeg dit is deel van die WAT se mandaat – om dié uiteenlopende en groeiende taalgebruik nie net te dokumenteer nie, maar ook te bewaar.
Vir Dylan Hess, junior mederedakteur van die WAT, is hierdie diversiteit in alledaagse woorde sigbaar. Hy het gesê “vuurhoutjie” is een van die lemmas (die naam van woorde wat in die woordeboek opgeneem word en in vetdruk verskyn) wat sy perspektief op Afrikaans verander het.
“Wat my veral opgeval het, was die groot aantal sinonieme wat daarmee saamgaan – van ‘blitshout’, ‘donderbalkie’, ‘donderstokkie’, ‘metjie’ tot ‘swaelhoutjie’,” het hy gesê. Volgens Hess wys dit hoe verskillende spraakgemeenskappe oor tyd hul eie woorde vir dieselfde begrip ontwikkel het. “Sulke lemmas herinner ’n mens daaraan dat Afrikaans nie eenvormig is nie, maar ’n taal met ’n enorme geografiese, sosiale en historiese omvang.”
Die WAT se poging om die volle omvang van Afrikaans te dokumenteer, is sigbaar in die definisie van “tamaaf”. Dié woord kom voor “in die taalgebruik van Moesliems” en word gebruik om “jammer” te sê. Dit word egter nie net verklaar nie. “Tamaaf” se oorsprong word ook aangedui – via Indonesies/Maleis uit Arabies – en ’n gebruiksvoorbeeld uit Zubeida Otto-Sallies se Diekie is ook ingesluit.
Louw het gesê die WAT werk doelbewus daaraan om die variëteite van Afrikaans wat nie in die verlede genoeg aandag geniet het nie beter te dokumenteer. Hess het gesê hierdie dokumentering behels “om bewustelik verder te kyk as die standaardvorm en die taalgebruik van gemeenskappe ernstig op te neem”.
‘Betekenis is nooit net data nie’
Die WAT is volgens Louw en Hess een van die betroubaarste bronne van Afrikaanse taalkennis.
“Betekenis is nooit net data nie, maar ook konteks, kultuur en menslike ervaring,” het Hess gesê. Hy sê die WAT bied gestruktureerde en gekontroleerde kennis aan die woordeboekgebruiker – in die vorm van betekenisonderskeidings, gebruiksvoorbeelde en historiese konteks – wat soekenjins en KI nie noodwendig doen nie.
Juis daarom het Louw gesê dit is belangrik vir die WAT om voort te bestaan omdat “taal nooit ophou ontwikkel nie”. Louw het bygevoeg: “Solank die Afrikaanse woordeskat aanhou uitbrei, het die WAT die mandaat om daardie woordeskat aan te hou boekstaaf.”

Hess het die belangrikheid van die WAT se voortbestaan beklemtoon. “Die WAT is nie bloot ’n taalproduk nie, maar ook ’n kulturele en historiese rekord.”
WAT in die toekoms?
Die WAT-redaksie is reeds besig om koppe bymekaar te sit oor die woordeboek se volgende fase. Sodra die WAT in 2028 tot by die letter Z voltooi is, beplan Louw en sy span om die eerste agt dele van die woordeboek sistematies te hersien.
“Wat ons ná 2029 kan doen, gaan afhang van waarvoor ons geld kry,” het Louw gesê. Hy het gesê private finansiering is die grootste gedeelte van die WAT se begroting, terwyl staatsfinansiering sowat 15% uitmaak.
Louw het verduidelik die hersieningsproses behels die byvoeging van nuwe en ontbrekende woorde, veral by die aanlyn WAT. ’n Spesiale projek sal daarop fokus om sensitiewe leksikale items na te gaan sodat die inskrywings aan hedendaagse norme en standaarde voldoen. Die WAT se webwerf verduidelik dat hierdie items onder meer rassismes, seksismes, beledigende en vulgêre taal, asook woorde vir gestigmatiseerde seksuele, fisieke en geestelike toestande insluit. Die WAT merk sulke woorde met etikette.
Etikette is daar om “die algemene gevoel van die woord oor te dra en woordeboekgebruikers duidelik te waarksu of bewus te maak van bepaalde gebruiksbeperkinge,” het Adshade verduidelik. Dit dui byvoorbeeld aan hoe formeel of informeel ’n woord is, of maak die gebruiker daarvan bewus indien iets as “kwetsend” of “humoristies” ervaar kan word.
Adshade se navorsing is toegespits op die bewerking van sensitiewe leksikale items wat met seksualiteit verband hou, asook die ontwikkeling van WAT-riglyne vir die hantering daarvan. Sy het gesê hierdie woorde is besonder uitdagend omdat “dit afhang van wat die konteks en iemand se bedoeling is”.
Nog ’n uitdaging, het Adshade gesê, is dat baie sensitiewe leksikale items algemener in gesproke Afrikaans voorkom en selde in geskrewe bronne neerslag vind. Dit verander die leksikograaf in ’n “woordsnuffelhond wat op ’n jagtog moet gaan om dinge uit te vind,” meen Adshade.
Ander toekomstige projekte van die WAT sluit in ’n uitgebreide navorsingsportaal op die WAT-webwerf, waar gebruikers ook toegang sal hê tot ander taalhulpbonne soos die Etimologiewoordeboek van Afrikaans en die Sinoniemwoordeboek.
Joernalistiek in die WAT
’n Enkele beroep omsluit ’n hele woordwêreld in die WAT. Wanneer jy “joernalistiek” in die aanlyn WAT opsoek, is daar meer as 60 verwante inskrywings. Dit wissel van “oggendpers”, “koeranttaal” tot “drukfout” en “meningvorming”. Selfs die sinoniem “publisiteitsleer” is aangeteken.
Louw het op die lemma “stenografie” gewys, waar een van die gebruiksvoorbeelde lui: “As joernalistiek nie aktivisme is nie, is dit maar net stenografie.” Vir hom illustreer sulke inskrywings hoe die WAT nie net woorde verklaar nie, maar ook die ontwikkeling van openbare debatte en taalgebruik oor die jare vaslê.



