By Zandri van Greunen
Dit was vroeg in Februarie 2026 toe ’n klein groepie joernaliste van Die Matie die Universiteit Stellenbosch (US) Biblioteek se Kompaktus-afdeling aangedurf het. Ons het ure lank deur die geel papiere van die ou koerante geblaai op soek na almal wat al oor die jare by Die Matie betrokke was, sodat ons op die ou end ’n lys met hul name vir die 85ste herdenkingsuitgawe kon saamstel.
Ná twee ure van sit en wonder of die glyrakke in die Kompaktus-afdeling al ooit iemand per ongeluk in ’n skyfie gedruk het, besluit ek dit is tyd om asem te skep.
My oog vang ’n dik streep op die bladsy van ’n uitgawe van Die Matie in 1990 (10 Mei) wat voor my op die tafel lê. Die streep is net mooi regdeur een van die redaksielede se naam: “Tina du Toit”. Dit blyk asof die destydse assistenthoofredakteur se naam met opset gevandaliseer is.

Ek haal my foon uit my broeksak en neem ’n foto. “Guys, what happened to Tina?” tik ek en stuur die foto op ons WhatsApp-groep. Ons begin bespiegel oor wat Tina moontlik kon aanvang om haar mederedaksielede so boos te maak, want die hele affêre is effens dramaties. Nietemin herinner ’n mederedaksielid my: “They were journalists, what do you expect?”
In die koerante voor en ná 1990 ontdek ek dat Tina die skrywer van die rubriek “Perspektiewe en Dinge” was. Marina Pretorius het toe op 10 Augustus 1990 die leisels by Tina oorgeneem.
Terwyl ek terugstap na Die Matie se kantoor wemel my gedagtes. Almal op die redaksiegroep kwetter saam oor wat met Tina kon gebeur het. Miskien was dt die deurmekaarspul van min slaap en elke dag se Neelsie-kos wat veroorsaak het dat ons redaksie so ’n emosionele band met Tina ontwikkel het. Toe ons uiteindelik ’n redaksiefoto met Tina in ons kantoor op-spoor, was almal verheug om te sê: “We found Tina!” In die moeilike tye voordat die verwelkomingsuitgawe in Februarie gesak het, het dié aanhaling op ons quotes-muur ons voortdurend bemoedig: “Guys, it’s tough, but at least we found Tina.”
Gedurende die semester bly Tina steeds deel van ons redaksievergaderings. Elke keer wanneer ek laatmiddag die kantoor besoek, groet ek Tina hoflik om te wys dat sy nie in óns redaksieblok uitgekrap is nie. Dit is immers ons soeke na Tina wat ons so nou en dan van InDesign se kwale laat vergeet het.

Ons het later uitgevind Tina se mederedaksielede het nie ’n rol gespeel in haar stilswye nie, maar dat dit eerder een van die Studenteraad (SR) se nare truuks was. Tina het ’n paar maroen baadjies immerrooi laat gloei toe sy in “Perspektiewe en Dinge” die SR se “knaters”, of die afwesigheid daarvan, bespreek het (Die Matie, 8 Maart 1990).
Dawie Wilkens, die ondervoorsitter van die SR se mediakomitee, het die klag oor Tina se rubriek by die mediakomitee ingedien en ’n mosie ingestel wat vra dat die rubriek dadelik gestaak word (Die Matie, 12 April 1990).
Dit is waar dinge interessant begin raak. Tanja Hichert, oud-interkampusredakteur van die jaar 1987 tot 1988 en assistent-hoofredakteur van 1989 tot 1990 by Die Matie, het tydens hierdie penarie op die SR se mediakomitee gedien. Sy het gesȇ Wilkens se mosie teen Tina is “volgens die SR-reglemente ongeldig”. Die mediakomitee mag volgens hierdie reglement slegs aanbevelings by die SR maak nadat ’n deeglike ondersoek en skriftelike klag afgehandel is. Hichert het verder gesȇ die komiteelede se besluite word polities, eerder as deur die reglement, gedryf. Die hoofredakteur van 1990, Dries Liebenberg, het nie na die SR se klaagliedere geluister nie en bloot gesȇ die rubriek oorskry nie Die Matie se etiese kode nie (Die Matie, 12 April 1990). Die redaksie het toe besluit om op
10 Mei 1990 steeds “Perspektiewe en Dinge” te behou, maar hierdie keer sonder Tina se gewone geselsies en net: “Die SR het lesers die reg ontneem om hierdie rubriek te lees.”
Soos ek die koerante van 1990 toemaak, dink ek aan my eie tyd by Die Matie. Ek dink aan hoe vas ek glo dat ons span dieselfde vir mekaar sou doen.
Ons redaksie het in ons termyn by Die Matie soveel meer as net vir Tina gevind.
Die beste stories verskyn nie altyd op die voorblad nie, maar eerder tussen die mense wat saam daaraan skryf.



