‘Stomdier’ baie gepraat, maar min gesê

Deur Emma Olivier

Stomdier, geskryf en met régie deur Kimi de Beer, is ’n toneelstuk met groot en gruwelike idees wat hul nie volkome kon uitleef op 24 Julie by die Première Teaterfees nie.

Liney Kriek omring deur simbole in Stomdier wat op 24 Julie by die Première Teaterfees in die Adam Small Teatergebou gewys het. Foto: Nardus Engelbrecht

Lina (Zani Brand) en Elsie (Amy Olivier), met wie Lina al van kleins af ’n noue band deel, voel asof hulle nie heeltemal inpas in hul dorpie met asbesmyne, koorsbome en donker geheime nie. Boonop het Lina ’n gespanne verhouding met haar ma (Liney Kriek). Dié steek intussen ’n verhouding weg met een van die asbesgepoeierde mynwerkers – Elsie se man (Sebastian van Niekerk). Lina en Elsie vind uitlaatklep vir hul frustrasie met hul versmorende omstandighede in die geselskap van ’n vreemde saterdier (Khian van der Boon) wat hulle in die versoeking lei om met hom weg te hardloop.

Stomdier het ’n neo-volksverhaal à la Reza de Wet belowe – ryk met simboliek en met Jungiaanse lae belaai. Die simbole het sterk potensiaal gehad (die asbes as simbool van die inwoners se psigologiese ongesondheid; die son en maan as ’n tipe verkenning van die manlike en die vroulike; die saterdier self dalk ’n simbool van Lina se onderdrukte seksualiteit), maar daar was eenvoudig nie genoeg verteltyd om hulle almal behoorlik uit te pluis nie. Soms is kwaliteit en kwantiteit onversoenbaar.

As gevolg van die onderontwikkelde simboliekspel, was karakteruitbeelding meestal afhanklik van dialoog en gebrekkig aan enige ander tentoonstelling van karaktereienskappe. Lina se mede-karakters let “iets anders” op aan haar, ’n “vreemdheid, vrees en skaduwee”, maar die gehoor kon slegs die akteurs se woord vat daarvoor. 

’n Ander aspek van Stomdier wat die trefkrag van die verhaal ondermyn het, was die uitdaging vir die gehoor om die hewige porsies dialoog te sluk. Op tye was dit asof die akteurs gesukkel het om variasie aan die lang spreekkbeurte te gee. Die oordrag was dus gereeld monotoon met herhaalde spraakmaniërismes, soos die saterdier se konstante verbale aandagstrepe, wat selfs die mooiste spreekbeurte vervelig kan maak.

Weens al die bogenoemde het Stomdier se wêreld gely onder ’n ongevormde mitologie. Die koorsbome wat so by die karakters spook, byvoorbeeld, speel nie eintlik verder ’n groot rol nie. Dus het Chekov se geweer maar net daar gehang en stof opgegaar. 

Hulle sê reëls is gemaak om gebreek te word, maar Stomdier het die impak van die storie belemmer deur ook seker die heel eerste reël in die boek te ignoreer: show, don’t tell.

Related Articles

spot_img
spot_img