Spoegwolf verander Dagbreek onder ’n volmaan

Deur Emma Olivier

Spoegwolf verander Dagbreek onder ’n volmaan

Bo die beroemde Eiffeltoring in die Dagbreek-quad het ’n volmaan uitgekyk oor ’n  gehoor wat Dinsdag 28 Julie deur Spoegwolf se musiek betower is. 

Chris von Wielligh (links) en Danie du Toit (regs) langs mekaar in die rook by Dagbreek Quadnaval. Foto: Emma Olivier

Soutbrug was een van die openingsvertonings vir die aand wat ook een van hul eerste gigs was. Met beide sangers Christiaan Smuts en Sybrandt Stadler op die kitaar, Danté Fourie op die dromme en Dominic Uren op die baskitaar, het hierdie nuwe band die gehoor opgewonde gemaak met covers van throwback-treffers soos blink-182 se “What’s My Age Again?”

Die afwagtig het onder die sakkende son opgebou gedurende DJ Djavan se set terwyl die wassende gehoor die ritme geniet het.

Die magic van Spoegwolf se musiek

Die volmaan was hoog toe Spoegwolf uiteindelik op die verhoog verskyn het. Soos ’n goue lint het die band se energie die gehoor saamgebind soos hulle hul geliefkoosde lirieke saamgesing het. Danie du Toit is talentvol soos altyd met sy veelsydige, vibrerende stem.

“Is daar nog meisies hier wat in Afrikaans kan vloek?” skerts Danie du Toit van Spoegwolf met die groot gehoor by Dagbreek Quadnaval. Foto: Emma Olivier.

Gedurende die band se tyd op die verhoog was dit net hulle, die gehoor en die musiek. Miskien was dit die swellende kitaar se lied, of die roerende slae van Moskou du Toit op die dromme, maar dalk was dit tog net daardie soort towerkrag wat plaasvind wanneer  allerhande verskillendes as een mens uitroep oor stekende moed en ’n brandende bos.

“Hierdie is die beste universiteit-show van my hele fokken lewe. Dankie hiervoor,” het Danie du Toit aan die einde van Spoegwolf se set gesê. Hy het ook teen diskriminasie uitgepraat en gesê: “Fok xenofobie.”

Danie du Toit van Spoegwolf verlig die verhoog met sy energieke optrede by Quadnaval. Foto: Emma Olivier.

DJ-duo Heyden B2B Mark het die aand geëindig met ’n paar gewilde Afro house mixes.

Soutbrug aan die opkoms

“Die naam, Soutbrug, kom van die chemiese konsep van elektrolise,” het Smuts, eerstejaarstudent in Chemiese Ingenieurswese, gesê in ’n onderhoud met Die Matie. Hy beskou musiek as ’n soortgelyke oorgangsproses wat gevoelens na uitdrukking transformeer. Volgens Smuts is die rock scene spesiaal, want mense “vind hulle gemeenskap daarin, dat hulle liefde en aanvaarding het, daar waar hulle kan groei sonder judgement”

Soutbrug, een van Spoegwolf se voorprogramme by Quadnaval. Van links na regs: Christian Smuts, Sybrandt Stadler, Danté Fourie en Dominic Uren. Foto: Emma Olivier.

Fourie het gesê hy en Uren se vriendskap is versterk deur hul liefde vir Spoegwolf. “Die feit dat dit in Dagbreek, in ons koshuis, was en dat ons die stage gedeel het met Spoegwolf was een van die coolste goed wat ooit kon gebeur het!”

Stadler het gesê Soutbrug is geïnspireer deur ander kunstenaars wat mense van regoor die land bymekaar bring. Hy het bygevoeg dit was “’n droom wat waar geword het” om die openingsvertoning vir Spoegwolf te doen.

Related Articles

spot_img
spot_img