Deur Jana Burger
Mannetjies rou, geskryf deur Mia Groenewald en Joanie Taljaard, het die harte van die gehoor by hierdie jaar se Première Teaterfees gewen. Die toneelstuk handel oor ’n skrywer, Henriette Liebenberg (Lyla Botha), wat ’n spookskrywer (Zani Brand) aanstel om haar met haar jongste boek te help.

Lyla Botha as Henriette Liebenberg en Mila Sobolewski as die vreemde entiteit tussen die boekrakke. Foto: Nardus Engelbrecht
Die beknopte verhoogruimte (stowwerige boekrakke en lakens rondom ’n lessenaar) kry lewe deur ’n skarrelende, naamlose entiteit (Mila Sobolewski) wat flink tussen die meubels beweeg. Sobolewski se karakter word die interessantste, snaakste en belangrikste deel van die verhaal, soos sy met die spookskrywer worstel om Henriette se herinneringe en gedagtes te onderdruk en verwronge te hou.
Die ruimte en die entiteit vloei in mekaar. Vanaf die eerste opgefrommelde papier wat op die grond val, tot die laaste boekrak wat op die verhoog neerstort, is die toneelstuk se tydsverloop perfek en die gehoor is deurlopend gespanne.

Lyla Botha en Mila Sobolewski in Mannetjies rou. Foto: Nardus Engelbrecht
Al die elemente van die toneelstuk was duidelik baie goed beplan en uitgevoer. Die karakterontwikkeling, die ruimte en die verkenning van Henriette se verlede lei tot ’n bevredigende einde wat ’n mens opgewonde maak om meer Afrikaanse teater te kyk.



