Goeie joernalistiek breek deur die gedruis na die waarheid

Deur Jana Gous

Om inligting te vind was vroeër jare die moeilike deel van joernalistiek. Nóú is die uitdaging om te weet wat om te vertrou. Nuuskantore verdrink in KI (Kunsmatige intelligensie)-gegenereerde inhoud en die eindelose stroom van inligting, dus bevind joernaliste hulself in die posisie as die waghonde wat waarheid van geraas moet onderskei.

Verskeie joernaliste wat se loopbaan by Die Matie begin het, het aangegaan om ’n impak te maak in groot Suid-Afrikaanse nuuskantore, en hul vroeë jare in die industrie wys dat om die waarheid te vind nie net gaan oor feite versamel nie. Die soeke na waarheid beteken om vas te staan wanneer jy gekeer word om dit te publiseer.

Gina Schreuder en Annelie Maré kyk oor André-Pierre du Plessis se skouer ná hy ’n klagte van die SR ontvang het. Verskaf: André-Pierre du Plessis

André-Pierre du Plessis, redakteur van Die Matie in 2006, vertel van ‘n Stellenbosse restaurant wat Die Matie probeer dagvaar het nadat ‘n artikel ‘n mededingende restaurant vir lesers aanbeveel het. “Die vuurdoop het my ’n noodsaaklike les geleer: intimidasie is dikwels die eerste verdedigingslinie vir dié wat teen die pers probeer terugveg, ongeag of hulle werklik verkeerd is,” het Du Plessis gesê.

Daardie vroeë toets van moed was deel van wat hy beskou as die beste werk wat hy ooit gehad het. “Om redakteur van Die Matie te wees, is ‘n unieke geleentheid om met die meganika van hoe stories saamgestel word te speel, om te leer hoe om ’n publikasie saam te stel en hoe om ’n span onder druk te motiveer,” het hy gesê. In 2025 het hy Promenader gestig, ’n gedrukte gemeenskapskoerant vir Seepunt en dieselfde ingesteldheid om vas te staan en ‘n publikasie aanmekaar te hou, na sy eie nuuskantoor geneem.

Die stryd na geregtigheid en waarheid duur voort, maar die joernalistieklandskap het oor die dekades verander. “Dit is ’n heeltemal ander wêreld. Destyds het alles fisieke arbeid geverg; jy moes werklike dokumente opspoor en verslag doen deur hof toe of Parlement toe te gaan,” het Du Plessis gesê.

Die ou Die Matie kantoor na-ure. Christian Knobloch en Lelanie de Roubaix (Redaksielede 2006). Verskaf: André-Pierre du Plessis

“Joernalistiek het logisties baie makliker geword om uit te voer, maar in ’n ander sin baie moeiliker, omdat ons nou verdrink in ‘n oorvloed van inligting. Die uitdaging het verskuif van om inligting te vind na om waarheid van geraas te skei,” het Du Plessis gesê.

Die skeiding tussen waarheid en geraas begin by betroubare bronne. “Die grootste vaardigheid vir joernaliste vandag is om dubbeld seker te maak van feite en inligting,” het Jóhann Thormählen gesê, sportredakteur van Die Matie in 2007 en nou senior sportjoernalis by Rapport. “Vaardighede met sosiale media en die gebruik van KI het deesdae belangriker geword, maar jy moet hierdie bronne ook versigtig gebruik. Dis nie altyd 100% reg nie,” het hy gesê.

Thormählen het bygevoeg dat skeptisisme ook op mense van toepassing moet wees, nie net platforms nie: “Moenie alles wat mense sê as feite aanvaar nie. Hulle kan en is dikwels verkeerd – dis nou selfs jou bronne.” Daardie skeptisisme, het hy gesê, begin lank voor die onderhoud self. “Berei deeglik voor vir onderhoude en maak seker jy vra unieke vrae. Hoe beter jou vrae en navorsing, hoe beter is die antwoorde wat jy vir jou storie kry,” het Thormählen gesê.

Annelie Maré (Redakteur in 2007), Gina Schreuder (Nuusredakteur in 2006), Susan Smit en Marissa Baard (2006 se Taalversorgers) en Christian Knobloch ná hulle tot 04:00 (lyk dit op die horlosie) aan die koerant gewerk het. Verskaf: André-Pierre du Plessis

George Claassen, voormalige hoof van die Departement van Joernalistiek aan Stellenbosch Universiteit en tans openbare redakteur by News24, stem saam. “Om akkuraat, eerlik en regverdig te wees in nuusverslaggewing is die basis van die SA-Persekode se aanhef.” Claassen was in 1994 en 1995 betrokke by die opstel van die etiese gedragskode vir Die Matie. “Ek glo joernaliste moet, inderdaad móét, die Carpenter se Spreuk toepas: ‘Meet twee keer, sny een keer.’ Dit is hoe jy vertroue bou,” het Claassen gesê.

Thormählen bou hierop voort deur te sê dat vertroue nie net deur etiek verdien word nie, maar ook deur ywer en volharding. “My jare by Die Matie was die beste voorbereiding vir wat eendag in ’n regte nuuskantoor gewag het. Jy leer ook vinnig dat jy nie altyd gewild gaan wees as jy jou werk as joernalis reg en suksesvol doen nie. ” het hy gesê.

Daardie volharding, het Du Plessis gesê, moet gepaard gaan met iets wat nie in ‘n nuuskantoor geleer kan word nie. Du Plessis het verduidelik: “Nuuskierigheid bly die hoeksteen van hierdie beroep. As jy nie ’n aangebore sin vir nuuskierigheid het nie, het jy niks in hierdie bedryf te soek nie.”

André-Pierre du Plessis werk laataand in die biblioteek aan die 65ste herdenkingsuitgawe van Die Matie. Verskaf: André-Pierre du Plessis

Dit is hierdie instink, meer as enige instrument of platform, wat volgens Du Plessis sal bepaal wie die industrie se volgende verskuiwing sal oorleef. “Ons beweeg weg van die era van die ‘breë’ joernalis na die era van die kenner en die micro-influencer, dit is dus belangrik om jou spesifieke nis te volg. Die leser soek toenemend egte kundigheid eerder as oppervlakkige verslaggewing,” het Du Plessis gesê.

Vir die studentejoernaliste wat vanjaar vir Die Matie verslag doen, is daardie verskuiwing nie meer net ’n verre bedryfstendens nie, dit is die landskap waarin hulle reeds staan.

Related Articles

spot_img
spot_img