Deur Emma Olivier
Vandag is die live music scene ’n groot deel van die studentelewe op Stellenbosch. Die Matie het die argiewe verken en met ’n paar alumni gesels oor die live music wat hulle studente-ervaring gehelp vorm het.
Voor plekke soos Aandklas in Birdstraat ’n hub geword het vir opkomende bands, was danse
die plek waar live music mense saamgebring het. Alida Groenewald (née Burger), wat van 1968 tot 1971 Huishoudkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer het, het gesê daar was “elke naweek groot danse by die Stellenbosse stadsaal met orkeste soos Tony Osler se orkes, die Swing Set en die Ritmos”.
Anina le Roux (née Janse van Rensburg) onthou hoe sy geluister het na musikante onder Shifty Records se label terwyl sy tussen 1991 en 1994 aan die US studeer het. Sy het gesê Koos Kombuis was ’n “absolute instelling” op die dorp. “Valiant [Swart] en Koos Kombuis het die pad oopgemaak vir mense soos Karen Zoid,” het sy gesê.

Le Roux onthou ook hoe sy die “amazing” kwela-sanger en kitaarspeler, Josh Sithole, se konserte bygewoon het. Sy het gesê, ondanks apartheid en die “sterk Afrikaanse kultuur” op Stellenbosch, het “almal in die gehoor hom gelove”.
Anchen Burger (née Schröder), ’n US-student van 1996 tot 1999, het dit geniet om vir Valiant Swart, Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel live te sien speel. Sy onthou sy het hulle in aksie gesien by die Hidden Cellar-kroeg bo De Akker, waar Fool’s Gold vandag is.
Redaksionele kommentaar in Die Matie het besin oor Kerkorrel se opvoering in die Neelsie-studentesentrum vir die Woordfees van 2002. Die Matie het gesê: “In 1989 is Johannes Kerkorrel – toe een van die groot anti-apartheid kunstenaars – deur die rektor, prof. Mike de Vries, verbied om op die Matie-kampus op te tree. Dertien jaar later verwelkom die US die ‘alternatiewes’ op kampus” (Die Matie, 27 Februarie 2002).
Le Roux onthou Kerkorrel as haar “groot liefde” in musiek en het gesê as sy song “Hoe Ek Voel” “jou nie hoendervleis gee nie, dan sal niks nie”. Sy koester herinneringe van die “pumping atmosphere” by Die Dros Cellar, asook die Upstairs-kroeg by die Van der Stel-sportveld waar sy die Springbok Nude Girls by hul eerste opvoering gesien het. “Toe ek vir Arno Carstens die eerste keer op stage sien, het ek net gedink niks sal ooit weer dieselfde wees nie!” het sy gesê.
Soos met ander plaaslike kunstenaars wat wêreldwye erkenning verwerf het, soos die Springbok Nude Girls en Spoegwolf, het Die Matie in 1998 berig oor die Stellenbosse R&B-sanger, Devin Persens, wat ’n record deal gekry het en toe die geleentheid gehad het om in Amerika te gaan musiek maak.
Annika (wat verkies dat haar van nie genoem word nie), ’n Matie van 2012 tot 2016, het aan Die Matie vertel van die keer toe sy vir Jeremy Loops lewendig gesien speel het by Wilgenhof: “Ek onthou hy het ’n babaspeelding gehad met sulke klavierknoppies op. Toe het hy ‘Row, Row, Row Your Boat’ gespeel en hy het dit ge-loop (want hy is mos maar die loop artist) en toe het hy begin met die kitaar. Ek dink hy het net daarna sy eerste album uitgebring.”
Sy het gesê sy het die alt rock-groep Zebra and Giraffe by Jool (waartydens geld ingesamel is ten baie van Maties-gemeenskapsdiens en ’n vlotparade wat tot die vroeë 2010’s die akademiese jaar by die US begin het) en by Aandklas en Klein Libertas-teater gesien. Hier het sy ook ’n CD by die band gekoop. Melkterkommissie was ook ’n groep wat gereeld by Aandklas gespeel het, asook Fokofpolisiekar en Jackal and the Wind. Annika onthou sy het die laasgenoemde by Aandklas se Battle of the Bands gesien vir R10 per kaartjie – waarvoor jy ook ses Black Labels kon kry.

Eben Labuschagne, ’n BAHons (Filosofie)-student en oudskrywer vir Die Matie se Dag & Nag-afdeling, het aan Die Matie gesê: “Dit sou insane wees om te dink dat daar nie ’n legacy is nie. Baie bands sou sê hulle het in Stellenbosch begin as studente en hulle het by bars soos Bohemia tande gesny. So die legacy is definitief daar.”
Hy het egter sy kommer oor die ekonomiese aspek van live music gedeel: “Veral oor die afgelope twee jaar of so is goed soos uitgaan en drink ’n bietjie duurder as wat dit was. So, aan die consumer side is dit ’n probleem, maar ek dink die regtige moeilike ding is: dis verskriklik moeilik vir bands om ’n living te maak. Ons het nog nooit die mees luxurious en funded music scene in die wêreld gehad nie, maar ek dink dit is nog erger as wat dit was.”
Ondanks die uitdagings, bring live music vandag steeds Maties saam. Dorian Ellis, ’n BAHons (Antieke Kulture)-student en ’n ondersteuner van local bands, het aan Die Matie gesê: “Ek is
trots op hoe baie jong mense ongelooflike musikante geword het danksy die scene in Stellenbosch.”
Hy het bygevoeg: “Die alt music scene op Stellenbosch kweek sulke sin van gemeenskap. Ek het soveel nuwe en onmoontlik interessante mense by hierdie kon-serte ontmoet.” Die Stellenbosse lewendige music scene is ’n “plek waar musiek koning kraai en almal net hulself word,” het hy gesê.



