Latest Post

Students report delays and unanswered queries in NSFAS migration cases at SU Maties place second in Grand Final by one goal difference The SU student debt problem: R1 120 882 290 owed in outstanding student fees “No matter where he was, he would make a difference”: Stellenbosch mourns Antonio Britto
Deur Jana Burger en Emma Olivier

Al 44 (maal min of meer met tien) Afrikaanssprekendes was by die galageleentheid en konsert ter viering van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se 100ste bestaansjaar. Hierdie spoggerige viering is volgens Gerhard van Wyk, Eindredakteur van die WAT, “nie net ’n verjaarsdagpartytjie” nie, maar ’n manier om “dankie te sê vir almal wat betrokke is en was”. 

 Versnapperings in die voorportaal van die Endlersaal in die Universiteit Stellenbosch se Konservatorium. Foto: Emma Olivier

Die viering, wat op 7 Mei in die Endlersaal by die Universiteit Stellenbosch (US) Konservatorium geskied het, was ’n wie’s-wie van die Afrikaanswêreld. Dit sluit die WAT se Hoofredakteur, Phillip Louw en Senior Mederedakteur, Alet Cloete, in. Mede-samesteller van die Tesourus van Afrikaans, Amanda de Stadler sê: “Dit voel soos ’n reünie.” 

Kabous Meiring, een van die beskermingspersone van die WAT se Borg ’n Woord-projek, het die konsert afgeskop. Meiring sê by die WAT word “woorde as artefake afgestof vir nuwe gebruik” en so skroom die WAT nie weg van die taal se verskeie uitdagings nie. Dr. Ronel Retief, Voorsitter van die WAT-Direksie en die US se Registrateur, het voor die konsert ook ’n toespraak gelewer. 

Dr. Ronel Retief, Voorsitter van die WAT-Direksie, lewer ’n toespraak in die Endlersaal oor die WAT se rol as “lewende skatkamer van Afrikaans”. Foto: Emma Olivier

Retief beskryf die WAT as ’n  “immergroen lewende skatkamer van Afrikaans” en dat binne die akademiese tuiste van SU “in ’n intellektuele ruimte kan groei en floreer” – ’n onlangs-gepubliseerde studie in die International Journal of Lexicography het bevind dat die US vir 20 jaar vanaf 2003 tot 2023 die invloedrykste navorsingsinstelling in leksikografie gekroon is. Retief sê dat die WAT “Afrikaans in sy wydste omvang” weerspieël. 

Gerhard van Wyk, Eindredakteur by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), glimlag by die viering van die WAT se 100ste bestaansjaar. Foto: Emma Olivier

Behalwe vir die kunsmatige intelligensie (KI)-gegenereerde agtergrondbeelde geïnspireer deur die program se liedjies en gedigte, was die konsert se visuele elemente van ’n uiterse hoë gehalte met atmosferiese beligting wat deurlopend gewissel het – van die warm sonlig in ’n vrugteboord na die koelte van maanskyn oor die bosveld.

Die musikante het die gehoor met digkuns en liedere betower en op ’n reis geneem deur die storie van Afrikaans. 

Danab Bradley van Sitters, die opperhoof van die Gorachouqua-stam en ’n prominente taal- en kultuurerfenisaktivis, het bygedra tot ’n teatrale opening van die konsert, waar hy die klanke van Afrikaans in die natuur en die Khoi-taal met die gehoor gedeel het. As hierdie meevoerende storievertelling tot die einde van die konsert deurgetrek kon word, sou dit selfs nog meer indrukwekkend wees.

 ’n Skitterende ensemble: (van links na regs) Joshua na die Reën, Brandon October, Coenie de Villiers, Amanda Strydom, Lize Beekman, Karen Peterson, Deon Meyer, Die Paul Roos Gimnasium-sanggroep. Foto: Jana Burger

Die orkes – Janine Neethling op klavier en trekklavier, Lilivan Gangen op perkussie, Mauritz Lotz op die akoestiese en elektriese kitaar en Anjulie Nock op die baskitaar en tjello – het die sangers vergesel.

Die musikante het ’n elegante opvoering gelewer wat vloei van die een item na die volgende, en die deelnemers het almal saam afgesluit het met ’n baie nostalgiese opvoering van die bekende gedig deur H.A. Fagan, getoonset deur Laurinda Hofmeyer en oorspronklik gesing deur Laurika Rauch, “Ek het ’n huisie by die see”. 

Chris van Niekerk, bekend vir sy rol as Oom Francois in die geliefkoosde sepie 7de Laan, het ikoniese gedigte boeiend voorgelees. Deon Meyer, skrywer van Skorpio en Koors, het ook die gehoor verras met sy sangvermoëns. 

Musikant Coenie de Villiers se fluweelstem het sangeres Amanda Strydom se gloeiende verhoogteenwoordigheid mooi gekomplimenteer. Karen Peterson, musikant bekend vir die treffer “Top of the Mountain”, was die mees uiteenlopende musikant met haar veelsydige stem, wat sonder moeite verskillende genres kan bemeester.

Die sangeres Lize Beekman, haar akoestiese kitaar en haar grof-gladde storievertellerstem het ’n warm geselligheid geskep. Die Paul Roos Gimnasium-sanggroep het vanuit die agtergrond tot die atmosfeer van die aand bygedra. 

Popsanger Brandon October het uitgestaan in sy epiese musikale opvoering van N.P. van Wyk Louw se gedig, “Die Beiteltjie”. Die sanger Joshua na die Reën se styl was meer alternatief teenoor die ander musikante, wat volgens Retief ’n “hip” element na die konsert gebring het. 

Oor sy ervaring met die ander kunstenaars, sê Joshua na die Reën vir Die Matie: “Dit voel heilig om saam met hulle te werk.” Hy sê hy het “respek vir die generasie wat voor gestap het” en dat hulle “die dieper kant van Afrikaanse musiek ’n platform gegee het”. 

Die konsert het bydraers tot Afrikaans in sy verskeie vorme saamgebring om ’n eeu van noukeurig en insiggewende woordkennis te vier. Dit is soos Joshua na die Reën vir Die Matie gesê het: “Om woorde te ken, maak jou horison wyer.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.