deur Zandri van Greunen

GSTRiNG op die verhoog in Aandklas met groot gehoorondersteuning. Foto: Ethan Stopforth
Toe die aanlyn kaartjies vir Blitz en GSTRiNG op 2 Mei uitverkoop is nog voor die show begin het, was dit vanselfsprekend dat selfs nie die koue aanhangers van dié twee bands se kopskud-en-saamsing gaan keer nie.
Kopskud met ’n cowboy-hoed
Blitz het die aand afgeskop in ’n stampvol Aandklas. Die gehoor kon nie genoeg kry van die band se hoofsanger, Johan Verdoes, se manewales nie.
Verdoes se cowboy-hoed en aansteeklike energie is waarvoor rock ’n’ roll-aanhangers uitgesien het. “Dis oor die energy wat ons bring,” sê Verdoes. “As jy ’n live show kyk en jy voel dit, sal jy verstaan.”

Blitz se hoofsanger, Johan Verdoes, getooi in sy cowboy-hoed, gee ’n kopknik vir ’n gehoorlid ná hul laaste liedjie van die aand. Foto: Ethan Stopforth
Dit is ook hierdie energie wat Blitz verlede jaar die wenners van Aandklas se Battle of the Bands-kompetisie gemaak het. Vir Blitz is Aandklas meer as net ’n plek waar hulle optree en Verdoes noem dit ’n “tweede huis”.
Daar is ook nuwe musiek wat blitsvinnig op pad is. Verdoes het vir Die Matie gesê dat hulle beplan om vanjaar in Julie of Augustus ’n debuutalbum vry te stel. Hy beskryf die album as volg: “Dis rock ’n’ roll, alternative, rustig en suip. Blitz of niks.”
Aanhangers van Blitz kan bekende liedjies soos “Ek Weet Nie Waar Ek Is Nie” en “Fluit Fluit” op die album verwag.
Verdoes sê dat hy nie te bekommerd is oor die ontvangs van die debuutalbum nie, want “dit verteenwoordig wat Blitz nou is”.
Van gunstelinge tot ’n nuwe klank
Ná Blitz het die gehoor saamgesing met van GSTRiNG se bekendste liedjies soos “Olivia” en “Kenia”.
Anri Cronjé, ’n derdejaarstudent in grondslagfase-onderwys aan Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros), sê die gees in Aandklas was vir haar die hoogtepunt van die aand.

Wilhelm Warmenhoven van GSTRiNG betower die gehoor met sy baskitaar-truuks. Foto: Ethan Stopforth
Vriendegroepe het vir die heel eerste keer na Aandklas toe gekom sodat hulle GSTRiNG kan sien. Mar-Zanne Strauss, ’n derdejaar Bcom (Bestuursrekeningkunde)-student, was deel van só ’n vriendegroep.
Sy sê dat GSTRiNG die “studente-ervaring” baie goed in hulle lirieke vasvang. “Daar is nie musiek soos hierdie in Afrikaans nie. Jy het jou Spoegwolf, maar hierdie is ’n ander tipe alternative – meer indie,” sê Strauss.
Die vertoning was ook spesiaal omdat GSTRiNG die aand voor dit (1 Mei) hul nuwe enkelsnit, “Verloor Jouself”, vrygestel het.
Aanhangers van GSTRiNG is klaar mal daaroor. “Ek het letterlik tot twaalfuur toe wakker gebly om dit te luister. Ek love die nuwe single,” sê Cronjé.
Wilhelm Warmenhoven, baskitaarspeler en agtergrondsanger vir GSTRiNG, het vir Die Matie vertel dat dié enkelsnit deel van ’n nuwe era vir die band is. Warmenhoven sê dat “Verloor Jouself” ’n “geleentheid is om onsself te herontdek en weer te vind”.
Al het GSTRiNG meer as 87 000 luisteraars op Spotify, is dit vir Warmenhoven nog steeds nostalgies om by Aandklas op te tree. “Aandklas is ons home ground. Ons het ons eerste show hier gespeel, so dis lekker om terug te kom en te sien dat die plek nog vol is en dat mense nog saam skree,” sê Warmenhoven.
Daar is egter slegte nuus vir GSTRiNG-aanhangers wat hoop vir ’n album hierdie jaar. Warmenhoven sê dat daar nie ’n nuwe album op GSTRiNG se horison is nie, maar dat hulle ’n hele paar enkelsnitte gaan vrystel.
Warmenhoven sê dat die klank van die enkelsnitte “very much die GSTRiNG-klank is wat ons oorspronklik in gedagte gehad het”, en hy beskryf dit as “rof en rustig”.
Alhoewel Blitz en GSTRiNG verskillende klanke en energie na die verhoog gebring het, het die twee bands se wedersydse ondersteuning vir mekaar uitgestaan. Al twee bands was in die gehoor om mekaar se vertonings te volg.