Latest Post

Celebrating International Pi Day with the Faculty of Education Darkfest 2026  Giving back is our jam When distant wars reach campus: how the Iranian war is closer than you think
Deur Nina Guy

In Maart vanjaar het die mediamaatskappy, MultiChoice, aangekondig dat hulle hul stromingsplatform, Showmax, gaan sluit, wat die einde van een van Afrika se grootste plaaslike stromingsdienste ná meer as ‘n dekade beteken. Die besluit volg op ‘n strategiese hersiening van die maatskappy se digitale bedrywighede nadat die moedermaatskappy, Canal+, MultiChoice verkry het.

Vir Afrikaanssprekende kykers en baie ander wat plaaslike inhoud verkies, kan dit na minder toeganklike platforms wat Suid-Afrikaanse stories ten toon stel, lei. Showmax was die tuiste van ‘n reeks gewilde plaaslike produksies, insluitend die Afrikaanse reekse Die Kantoor en Een Keer Om Die Son, sowel as ander gewilde Suid-Afrikaanse titels soos Youngins, Adulting en Devil’s Peak.

In ’n onderhoud met Die Matie, het Die Kantoor se regisseur en hoofskrywer Bennie Fourie, sowel as Afrikaanse aktrise Mila Fourie (née Guy), hul menings gedeel oor wat die veranderinge vir die bedryf kan beteken. Bennie Fourie vertel: “Vir ’n lang tyd word daar nou nie ontwikkelingskontrakte en nuwe kontrakte uitgereik nie. Met die oorname van Canal+ is daar baie oudits wat gebeur, so hulle het alles maar gepause. Daar is ’n groot droogtetyd wat kom. Al is daar ’n lig in die horison, is die huidige situasie maar dat mense sit en wag vir werk.”

Die sluiting van Showmax kom ná verskeie jare van finansiële druk op MultiChoice. Alhoewel die platform miljoene kykers aangetrek het, het dit wel gesukkel om winsgewend te raak. In die finansiële jaar 2025 het Showmax ‘n verlies van ongeveer R4,9 miljard aangeteken, byna dubbel van die R2,6 miljard verlies van die vorige jaar, volgens finansiële verslagdoening deur tegnologiepublikasie MyBroadband.

Toe daar uitgereik is vir kommentaar , het MultiChoice gesê dat onderhoude tans nie gevoer word nie, maar dat meer inligting oor wat met intekenare en bestaande inhoud sal gebeur in die komende weke bekend gemaak sal word.

Die besluit weerspieël ook ‘n breër verskuiwing in die globale stromingsbedryf. Vir baie jare het stromingsmaatskappye op vinnige groei en die werwing van intekenare gefokus. Die bedryf beweeg egter nou na finansiële volhoubaarheid.

Beide Bennie en Mila Fourie het beklemtoon dat storievertelling altyd sentraal in Suid-Afrikaanse kreatiewe bedrywe was, selfs tydens periodes van onsekerheid. Mila Fourie het bygevoeg: “Soos Bennie sê: ons is weerbarstig. Suid-Afrikaners make things happen. Ons vertel stories, ons hustle en ons het ’n lekker kultuur […].” Fourie het saamgestem en bygevoeg: “Ons sal altyd ‘n manier vind.”

Alhoewel daar onsekerheid is oor wat die herstrukturering van Showmax vir kykers en skeppers beteken, bly baie in die bedryf optimisties. Soos Fourie voorstel, het Suid-Afrikaanse storievertellers voorheen by veranderinge in die media-landskap aangepas. Of dit nou deur tradisionele uitsaaiers of nuwe plaaslike dienste is, die vraag na Suid-Afrikaanse stories sal waarskynlik nooit verdwyn nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.