Deur Emma Olivier

Sedert Pieter Krog se oudioboek-digbundel Sonneblom na Blou op 20 Februarie vrygestel is, het die albumreeks ’n verwelkomende ontvangs geniet. Die bundel volg die lewe van ’n jong man wat vanaf kindertyd tot volwassenheid met homself en die wêreld stoei, en uiteindelik sy identiteit in sy woordkuns vind.
Die werk dartel atmosferies tussen bittersoet blommekindromanse en strummende karoo-western-gotiek. Krog inkorporeer ook verskeie perspektiewe en stemme om ’n kleurvolle mosaïek van ervarings in ’n getekstuurde geheel te omskep. Iemand wat kyk na die omvattendheid (klanklik en tematies) van die projek, sou dit dalk ambisieus noem, maar Krog se debuut dui op sy reg tot ambisie.

By die digbundel se bekendstellingspartytjie op 28 Februarie by Johnman Cottage het Krog en Isabella Burgers ’n voorlesing gegee met Eben Labuschagne op die kitaar, Mikael von Eschwege op die viool en Julian Robinson op die mondfluitjie. Krog het ook vertel oor die inspirasie agter die bundel, sowel as die opneemproses wat ongeveer vier maande geneem het.

In ’n paneelgesprek by dieselfde geleentheid met Tiaan la Grange (vryskutskrywer en redakteur van Mirari Revel) en Kobus Erasmus (musikant en mede-vervaardiger van die bundel) het Krog gesê hy glo dit is die verantwoordelikheid van die kunstenaar om “die wêreld te gaan verstaan en mense te vertel”. Sonneblom na Blou trek invloed van storieverteller-musiekmakers soos Pink Floyd en Bob Dylan. Krog het ook teruggedink aan karritte uit sy kinderjare waar sy pa Boerneef-opnames vir hom gespeel het. Dit het Krog later aangespoor om met die huwelik tussen woord en klank te eksperimenteer.
La Grange het in die paneelgesprek gesê: “Jy hou jouself soms terug as jy wag vir die regte oomblik.” Sonneblom na Blou is dalk die begin van ’n nuwe golf digkuns wat die grense van die geskrewe medium oorskry, die metodes van tradisionele publikasie uitdaag en die gemeenskap van kunstenaars oor verskeie mediavorms heen versterk.