IN AKSIE Nicola Smith verteenwoordig die Protea-netbalspan. Foto: Netball South Africa (@Netballsa)

Maties se Protea-netbalspeler blink uit

DEUR ANE HAVENGA

By die onlangse Netball Quad Series het Nicola Smith haar buiging vir die Proteas gemaak. Dié toernooi het tussen 15 en 19 Januarie in Londen plaasgevind het. 

Hierdie vierdejaar-BEd (Intermediêre fase)-student het behoor­lik as verdediger uitgeblink teen die wêreld se beste spanne wat Engeland, Australië en Nieu-­Seeland insluit. Sy het haar buiging teen Australië gemaak waarna sy weer twee keer teen Nieu-­Seeland gespeel het. 

Die Proteas het in hulle laaste uitspeelwedstryd op 19 Janu­arie net-net uitgemis op ’n plek op die podium toe hulle vierde geëindig het in ’n naelbytstryd wat 51‒50 deur Nieu-Seeland gewen is. 

Die span is in Desember 2021 bekendgemaak en Smith was behoorlik op haar senuwees veral omdat hulle die wêreld se bestes sou aanpak in Januarie se toernooi. Smith vertel gretig:  “Dis ’n groot voorreg om in Londen te kan wees alhoewel die isolasie en koue weer nie ideaal is nie. Dit het vir my onwerklik gevoel toe ek in my eerste wedstryd teen Australië uitdraf, veral omdat hulle nommer een in die wêreld is.” 

Smith vertel graag oor die Proteas: “Ons het ’n week voor die toernooi in Engeland aangekom en elke dag twee sessies in die gimnasium gehad en twee op die baan. Gedurende die jaar as ons nie op toer is nie, kom ons een keer per maand bymekaar vir ’n oefenkamp wat gewoonlik so vyf dae duur.” 

Gelukkig draf sy nie net vir die Proteas uit nie en is sy nog hierdie jaar te sien in Maties se maroen. Smith vertel: “Maties se spangees en die goeie verhoudings tussen die spelers is vir my bitter spesiaal.” 

Sodra sy klaar die Proteas verteenwoordig het, sluit sy by die Maties-span se oefening aan. 

Ná hierdie jaar sal sy graag wil kyk of sy ’n geleentheid kan kry om oorsee te gaan speel, maar fokus nou daarop om in die Protea-span te bly, veral omdat die 2023 Netbalwêreldbeker in Kaapstad plaasvind. 

Smith sê dat haar ma haar inspirasie is vir alles wat sy doen en dat sy haar ma bewonder. 

Dit is duidelik dat Smith nog groot drome het en hard werk om dit ’n realiteit te maak, veral as ’n mens haar gunsteling aanhaling hoor – “Hard work beats talent when talent doesn’t work hard!” 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial