Latest Post

UPDATE- Bodies of missing Stellenbosch couple found First year SU student and girlfriend missing One step closer to social change with Eon STUDENT STUDY TIPS

DEUR JEAN-MARIE UYS

’n Nuwe koers van rigting en ’n vars begin kan miskien gevoelens van opwinding en entoesiasme meebring vir die nuwe student. Nietemin, is dit nie kort voor lank voordat die skaduwee van uitgawes, organisering en wat dit eintlik beteken om student te wees, ver strek oor die eerste paar weke wat een in Victoriastraat afloop nie. Die goeie nuus is egter dat daar wel maniere is om kop bo water te hou wanneer die strome van studentelewe-uitdagings dreig om een diepkant in te sleep. Hierdie touwyswenke kan strek van die eerste intrek, tot die boeke en tot die buitemuurs. 

Die dag is uiteindelik hier. Vakansie is verby en die kar is oorlaai met al wat ’n boks, PEP-sak of plant is – reg om Stellenbosch toe te gaan waar dit net weer uitgepak gaan word. Dit is natuurlik om te dink dat die ergste verby is nadat alles wat saamgesleep is ’n unieke plekkie ingeneem het in die nuwe woning. Soos daar meer geleef word, word daar egter meer werk geskep wanneer daar eers opgemerk word hoeveel klein benodighede nog aangeskaf moet word. Die ongerief van elke nou en dan die winkels invaar agter hierdie nuttighede aan kan egter ontduik word. 

Campuskit is ’n aanlyn winkel wat onlangs geloods is en tans bestellings neem vir 2022 se akademiese jaar. Hulle verskaf ’n verskeidenheid pakkette wat die basiese noodsaaklike items vir elke studentewoning bevat teen bekostigbare pryse, sonder om kwaliteit af te skeep. Uit dié pakkette kan studente op ’n verbruikersvriendelike webtuiste kies tussen Campuskit se kombuis-, badkamer- of  slaapkamerpakkette waar daar ook die opsie aangebied word om die pakkette pas te maak uit ’n lys van opsionele bykomstighede. Alle bestellings word aanlyn geplaas en landwyd vervoer. Volgens hulle webtuiste (https://campuskit.co.za/) raak Campuskit ontslae van die moeite wat dit verg om al hierdie items individueel aan te koop of om alles van die huis af te bring.

Daar moet nie net aan woningsbenodighede aandag geleen word nie, maar ook aan akademiese noodsaaklikhede. Bo en behalwe skryfbehoeftes, is handboeke in hierdie lysie wat lank genoeg kan raak om ’n groot hap uit enige beursie te neem, ingesluit. Dit is juis om hierdie rede dat daar vele instansies bestaan wat probeer om handboeke meer toeganklik te maak vir die student se begroting. 

Een só ’n instansie is Protea Boekwinkel, wat verskeie takke landwyd besit en so ook in Stellenbosch gebaseer is in Bergzicht Plaza op Andringastraat. Dié handelsmerk verskaf ’n verskeidenheid nuwe, sowel as tweedehandse boeke en handboeke. Nóg meer, Protea Boekwinkel se voorraad is ook aanlyn beskikbaar by Takealot.com, waar daar elke nou en dan ’n verdere afslag toegedien word. 

Tweedehandse handboeke kan ook verwerf word via Textbook Trader se webtuiste (textbooktrader.co.za) waar kopers kan kies tussen ’n verskeidenheid winskopies wat opgelaai word deur die eienaars van die handboeke. Soos geadverteer op Textbook Trader se webtuiste, word boeke gratis binne vyf dae afgelewer nadat betaling ontvang is. Hierdie instansie bied nie net ’n platform vir dié wat handboeke benodig nie, maar ook vir dié wat hoop om ontslae te raak van hulle ou handboeke en so ook ’n loontjie te verdien in die proses. ’n Verdere hulp tot handboeke is ook WhatsApp-klasgroepe of fakulteitsgroepe waar studente hulle handboeke adverteer ná die voltooiing van ’n module. 

Alhoewel oriënteringsweek genoeg is om enigeen voor te berei vir die oorgang tot klasdraf en integrasie tot kampus, mag daar steeds ’n paar ongemaklike onsekerhede op die verkeerde oomblik opduik. Miskien vind jy jouself in ’n situasie waar jy reeds laat is vir klas, maar nie die vaagste benul het waar jou klas is of hoe om daar uit te kom nie. Dit mag miskien glad nie as ’n verrassing voor kom nie, maar Google Maps sal jou ook in hierdie geval kan kry waar jy moet wees.

Om só ’n noue ontkoming verder te vermy, stel Jeanne Dreyer, ’n derdejaar-BCom (Regte)-student, die Class Timetable-toep voor “aan enigiemand met vaste afsprake of klasse”. Persoonlike roosters kan ingevoer en verander word op dié toep, met die opsie om notas, asook bestemmings, by elke inskrywing te voeg. Dreyer is verder daarvan oortuig dat Class Timetable uitstaan bo ander digitale kalenders: “Ek kan my rooster kleurkoördineer. Ek verkies om my modules verskillende kleure te gee.” Verbruikers kan volgens hulle unieke kleurskemas ook op hierdie wyse beter tred hou met hulle klasse of vaste afsprake. Class Timetable is gratis verkrygbaar vanaf Google Play of Apple se App Store. 

Laaste, maar definitief nie die minste nie, is die ewige aanvraag na student specials en studentevriendelike buitemuurse aktiwiteite. @stellies_does_deals op Instagram, of hulle webtuiste, doesdeals.co.za, verskaf gereelde inligting oor die nuutste afslagpryse van verskeie Stellenbosch-besighede en hoofsaaklik restaurante. 

’n Opname geneem in Maart 2020 deur die Instagram-blad, SU Just Kidding (@sujustkidding), stel vele aktiwiteite voor in en rondom Stellenbosch wat nie die bank sal breek nie. Onder andere, ’n besoek aan die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin, die Rupert Museum, Jonkershoek Natuurreservaat, die Root44-mark en nog vele meer. Nog idees vir ’n uitstappie, sowel as ander nuttige inligting en memes rakende student wees, is beskikbaar op SU Just Kidding se story highlights, gereelde plasings en interaktiewe stories. 

“Ek sou sê ’n bietjie budgeting sal jou ver hou deur die maand, en om elke dag selfs ’n bietjie aandag te gee aan jou studies sal jou ook baie help teen die tyd wat eksamens begin,” sê Nina Harmse, ’n  vierdejaar-BScAgric (Veekunde)-student. “Moenie alles hou vir die laaste oomblik nie. As jy iets het om te doen, doen dit sodra jy kan en moenie uitstel nie.”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial