Stellenbosch bring versteekte talente na vore

Deur Kristie Truter

Stellenbosch huisves talle veelsydige en talentvolle individue. Een van dié is die nuwe sanger en liedjieskrywer, LJ Blom, wat onlangs ’n liedjie saam met Danie du Toit (hoofsanger van Spoegwolf) bekendgestel het.

Blom se musiekloopbaan het onverwags begin. Hy het BAgric aan die Universiteit Stellenbosch studeer en het by Drum (Du Toit en sy broer, Moskou, se restaurant) gewerk terwyl hy sy nagraadse diploma in Agronomie voltooi het. Diegene wat al van Drum gehoor het, sal weet dat Du Toit dit geniet om die gaste te vermaak deur vir hulle ’n paar liedjies te sing. Du Toit besluit toe een dag dat Blom óók ’n beurt moet kry.

Volgens Blom het Du Toit hom baie gemotiveer en geïnspireer. “Danie het my van dag een af ondersteun met my musiek en ek dink nie ek sou vandag kon wees waar ek is sonder hom nie. Hy was nog altyd vir my ’n inspirasie in die manier hoe hy musiek maak en met mense interact. Hy het ’n Martin, wat my droomkitaar is, en voor service by Drum het ek ’n paar keer gevra of ek op dit kan tokkel. Een aand terwyl ek besig is om Drum se beroemde porkbelly vir die gaste te bedien, prop Danie sy kitaar in my hande. ‘Sing vir hulle’, sê hy. Ek het nog nooit vir meer as ’n handjievol mense gespeel nie; nou moet ek vir ’n hele restaurant sing. Ek sing toe drie liedjies. Ek was terselfdertyd bang én opgewonde,” vertel hy.

Só is die bal aan die rol gesit en Blom se musiekloopbaan afgeskop. In 2019 stel hy toe met Du Toit se hulp sy eerste liedjie, “Geglo”, vry. Op 11 September het hy sy Ep, Sonsakstrepe, vrygestel en daarop kan “Als Vir Jou” gehoor word. Blom het “Als Vir Jou” saam met Du Toit gesing en volgens hom was Du Toit net so opgewonde soos hy toe hy hom gevra het om dit saam te doen.

Volgens Blom het sy liefde vir musiek al in sy kinderjare begin. “My pa is ’n boer en ek het as ’n klein seuntjie my weeksdae in sy plaasbakkie deurgebring. Die radio was altyd op KFM gewees. Liedjie vir liedjie het ek [uit] volle bors saamgesing. Jonk en min geweet, het ek dalk daar my liefde vir musiek gekry,” verduidelik hy.

Blom is altyd besig om te skryf en die lirieke is woorde wat hy stuk-stuk bymekaarmaak soos inspirasie hom tref – by die see of op die plaas, terwyl hy ry, ensovoorts. “’n Liedjie kan binne ’n maand of ’n dag geskryf word, maar daar is definitief iets op pad binne die volgende paar maande,” vertel hy.

Op die oomblik doen Blom internskappe by verskillende vrugte invoer- en uitvoermaatskappye om ondervinding in die landbouindustrie op te doen. Hy geniet die ervaring opdoen en maak in sy vrye tyd musiek. Behalwe vir sy verskyning in Drum, het hy nog nie ’n live vertoning gehad nie. Sy droom is egter om musiek te kan maak vir die res van sy lewe en hy is opgewonde om sy musiekloopbaan verder te neem. Diegene wat van sy liedjies gehou het, moet beslis dié kunstenaar oor die volgende paar maande dophou. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram