Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR ANKE VAN DER MERWE

FNB UP (Universiteit van Pretoria)-Tuks het Maandagaand se Varsitybeker-rugbywedstryd teen FNB Maties afgeskop. Dit sou van die begin af ’n moeilike wedstryd wees, aangesien die noord teen suid stryd ’n moontlike herhaling sou wees van verlede jaar se eindstryd. Maties het egter hul wen-resultate voortgesit en het nog nie ’n wedstryd vanaf 2017 verloor nie.

Die eerste skrum was vinnig na afskoptyd en albei voorrye het goed gelyk. Maties het die eerste skrum gewen en is later beloon vir die goeie skrumwerk.

Dinge het aanvanklik rustig begin en die spanne het goed teen mekaar gekompeteer. In die elfde minuut het die manne van Maties gedink hulle het vyf punte in die sakkie, maar die aangee van Remu Malan (9) was ongelukkig vorentoe. Dit het vir bietjie opwinding gesorg.

Met ’n strafskop na 13 minute, het Maties besluit om eerder kantlyn toe te gaan. Na ’n paar bewegings het kaptein Ben-Jason Dixon (5) oor die doellyn geval vir die Maroen Masjien se eerste drie. Dit was 7-0 na 16 minute vir die tuisspan.

Tukkies het egter dadelik ’n antwoord gehad. Stefanus Coetzee (14) het agter die pale gaan kuier vir Tukkies se eerste punte. Met die eerste strategiese breek was die telling 7-7.

Geor Malan (6) het die bal van Tukkies se lynstaan na die breek gesteel. Na ’n paar bewegings het Maties ’n strafskop gekry en Reinhardt Fortuin (10) het die telling na 10-7 laat oorslaan.

Tukkies het meer die bal in die hand gehad na 25 minute en het meer druk op Maties begin plaas. Hul verdediging het net-net gehou en die telling was steeds 10-7 teen halftyd in Maties se guns.

Fortuin het na halftyd die telling 13-7 gemaak met ’n uitstekende strafskop deur die pale. JP Smit (3) van Tukkies het ’n paar minute later ’n besering opgedoen en is met die noodhulpkar van die veld af geneem. Beide spanne het meer foute begin maak en die telling was teen die tweede strategiese breek steeds 13-7.

Met so 10 minute oor, het Fortuin ’n strafskop verbrou en Tukkies was later sterk op pad doellyn toe. Met ’n aanslaan deur Tukkies en slegs vyf minute oor, het Maties weer die bal by die skrum ingesit. Die eindtelling het toe bly staan op 13-7 vir die Maroen Masjien.

Losskakel Reinhardt Fortuin is beloon vir sy goeie skopskoen en is gekroon as FNB Player That Rocks. Hy sal volgende week die pienk broek dra tydens die wedstryd teen FNB UK (Universiteit Kaapstad)-Ikeys. Die Steers Kinging Moment behoort aan die skrum van Maties. Volgende week se wedstryd is die laaste van die groepwedstryde by die Danie Craven Stadion. Soos wat die punteleer lyk, behoort die halfeindronde op 6 April te Stellenbosch plaas te vind.

Photo’s by Hugo Ubisse

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial