LAAT WIEL Maties-fietsryers pak die roetes rondom Stellenbosch aan. Foto: Verskaf

Tweewiel woema

DEUR MARYNA ADSHADE

 As jy ’n spoedvraat is of som­mer net lus vir ’n uitdaging is, moet jy dit oorweeg om by die Matie Fietsryklub aan te sluit. Dié manne en vroue is avon­tuurlustig en staan altyd gereed vir ’n resies.

Die Maties Fietsryklub word bestuur deur ’n komitee van vier studente: Catherine Pellow-Jar­man (nagraadse bermarking) dien as voorsitter, Frankie du Toit (fi­nalejaar sportwetenskap) is die ondervoorsitter, en Liam Venter en Lemar Meyer (beide finalejaar in­genieurswese).

Du Toit verduidelik dat al­hoewel daar geen vaste oefensess­ies is nie, kom die fietsryers wel weekliks bymekaar.

Daar is gewoonlik een groeprit deur die loop van die week en dan ook een oor naweke.

Elke Donderdag is egter “Threshold Thursdays” wat ’n resies tussen al die fietsryers is en sluit ’n roete in wat met Strava voltooi word.

Vir dié wat nie bekend is met Strava nie; dit is ’n toep wat jou toelaat om drafsessies of fietsritte se statistieke en roetes op te teken en na die tyd na te gaan.

Om almal deur die week kans te gee om te ry, word daar ook tus­sen pad- en bergfietsroetes afge­wissel en word die roetes gereeld verander om fietsryers op hulle tone te hou.

Vir 2020 het die klub ook ’n paar doelwitte gestel. Volgens Du Toit gaan daar gepoog word om deur die jaar nie net klubdeelname nie, maar ook interaksie tussen al die fietsryers, te verbeter.

Om ’n veilige en prettige atmos­feer vir al die fietsryers te skep, ongeag die vlak waarop hulle ry, is ’n prioriteit.

Die klub het ook ’n resiesspan waarin daar gefokus gaan word op elke individu se fietsrytalente en hoe om dit te verbeter.

Dié jaar wil die Maties Fiets­ryklub ook die USSA (Universite­itesport Suid-Afrika) in die mans- en vroue-afdeling wen.

Volgens Du Toit is die grootste voordeel van fietsry dat dit ’n so­siale sport is en jou na wonderlike plekke kan neem.

‘’Mens ontmoet interessante mense en sien pragtige uitsigte’’.

Vir Du Toit gee fietsry ’n gevoel van vryheid soos níks anders kan nie. Sy waarsku egter speels dat fietsry ’n verslawende sport is en dat “as jy eers begin, jy nie kan stop nie”.

Enige Matie wat belangstel om bietjie beenspiere te bou, is meer as welkom om nog by die klub aan te sluit. Gaan kyk ook na die klub se Instagram-blad @matiescy­cling as jy eers die kat behoorlik uit die boom wil kyk.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram