Media-gedrewe populisme


TIVAN LEAK

Die mediabedryf, nie net in Suid-Afrika nie, maar oor die wêreld heen, verkeer onder toenemende finansiële druk. Dit is hoofsaaklik die gevolg van sosiale media wat digitale inligting makliker en goedkoper toeganklik gemaak het. Mediaplatforms moet meeding met bronne op sosiale media – wat gebeure vinniger kan weergee aan gebruikers.

Die tradisionele rol van die media in ’n demokrasie is om by te dra tot deursigtigheid en verantwoordbaarheid. Dit is om burgers – wat die politiek bepaal – ingelig te hou oor die politieke en ander relevante aangeleenthede. Die mandaat van ’n besigheid daarteenoor is hoofsaaklik om winste te maksimeer.

Die tradisionele rol van die media en die winsmaksimerende strewe van ’n besigheid oorvleuel soms, maar kan soms ook verskil. Die media behoort onafhanklik te funksioneer – dit wil sê, sonder die inmenging van belange groepe wat dit beheer waaraan burgers in die media blootgestel word. Die winsstrewe van besighede kan egter soms die onafhanklikheid van verslaggewing belemmer.

Om te verstaan hoe dit kan gebeur, is dit nodig om die finansieringsmodel van mediagedrewe besighede te verstaan. Digitale media werk, hoofsaaklik, as ’n tweeledige-mark – een waarin lesers deur verslaggewing gelok word en ’n ander waarin adverteerders advertensies koop gebaseer op die lesers wat gelok word. Hoe meer lesers gelok kan word, hoe meer geld kan deur advertensies gemaak word.

Daar is dus ’n aansporing om meer lesers te lok. Digitale platforms beskik oor gesofistikeerde elektroniese data wat, onder meer, vas kan stel watter artikels lesers gelok het, vanwaar die leser ingeskakel het en hoe lank die leser die blad besoek het. Hierdie data word dan gebruik om ’n besigheidsplan saam te stel. Die besigheidsplan sal dan uiteensit watter kategorieë die meeste lesers lok en daar is dan ’n aansporing om op die verslaggewing van daardie kategorieë te fokus.

Dit is hier waar populisme in die prentjie kom. Populisme kan rofweg beskryf word as gewildheidspolitiek waarin “die mense” teen ’n “bose elite” te staan kom. Die probleme van “die mense” word dan blameer op “die elite” en die oplossing vir die probleme het gewoonlik te doen met die aftakeling van die “elite”.

Die EFF se politieke strategie van vierkantig binne hierdie definisie – met wit mense as die “bose elite” en swart mense as “die mense”. Wanneer daar verslag gedoen word oor radikale uitlatings van die EFF, veroorsaak dit meer verkeer na hierdie artikel. Daar word dus meer verslag gedoen oor hierdie radikale uitlatings deur populistiese leiers omdat dit die winsbelange van mediabesighede bevorder.

Verslaggewing word só skeefgetrek deur die winsmotief en daarom
kan daar gesê word dat die media in hierdie opsig nie meer onpartydig is nie. Hoewel dit navorsing sal verg, vermoed ek dat die winsmotief en die toenemende finansiële druk op die media-industrie, bygedra het, en steeds bydra, tot die toename in populistiese bewegings.


Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram