Almal is deur die weer


LISA DE CLERCQ

Jy stel jou wekker vir 7:00 die oggend, maar wanneer dit jou wakker lui, is dit buite nog steeds pikdonker. Jy stap dan klas toe en al waaraan jy kan dink, is dat Victoriastraat eintlik so vaal is soos Fifty Shades of Grey se storielyn. Dan begin jou trane vinniger as die reën val, want al het jy ’n sambreel, is jy nou natter as wat jy 10 minute terug in die stort was.

Hulle sê dis altyd lente, maar selfs die oë van die Stellenbosch-studente sien nou al dat dit winter is. As jy iemand is wie se gemoedstoestand geaffekteer word deur die weer, het die laaste paar weke op Stellenbosch jou heel moontlik nogal mistroostig laat voel. Selfs al is jy iemand wat die sonskyn in hul eie lewe is of iemand wat van reën hou en nie omgee om permanent in een of ander fase van klamheid te wees nie, maak die donker en die koue dit maar moeilik om vroeg op te staan en pligsgetrou na elke klas toe te gaan.

Hier is dus ’n paar wenke vir die alledaagse lewe al is dit bly-in-die-bed-en-kyk-’n-fliek-met-warmsjokolade weer. Opstaan-opstaan, dis ’n heerlike dag. Die moeilikste deel van die winter is seker om in die oggend op te staan. Die hoeveelheid lig buitekant is ’n definitiewe aanduiding dat daar nog geslaap behoort te word. Daar is geen goud in die mond van die môrestond nie. Skep daarom maar jou eie lig wanneer jy moet opstaan. Sit dadelik die lig aan wanneer jou wekker afgaan.

Speel musiek. The Beatles se “Here Comes the Sun” is dalk die naaste aan vitamien D wat jy die hele dag gaan kry. Aangesien die temperatuur onder leefbare grade is, is dit ook aanvaarbaar om in jou bed aan te trek en te eet. Te ver om te loop en te na om met Noag se ark te vaar. Wanneer dit reën, voel jou klas altyd net ’n klein bietjie te ver, ongeag hoe naby jy aan die kampus bly.

Behalwe natuurlik vir paddavoete, is reënstewels ’n goeie item om in te belê gedurende die nat maande. Al is dit al wat jy en jou oupa en sy oupa al julle lewens lank dra, pak weg die plakkies; om droë voete te hê, maak alles baie meer draaglik. Spanwerk is altyd ’n wen metode. As jy weet jou maatjie wag vir jou in die reën op die hoek van Bosman- en Victoriastraat, sal dit jou aanmoedig om nie na die eerste druppel wat val te besluit dat daardie klas nie so belangrik is nie.

Alhoewel ’n Uber ook altyd tot jou redding kan kom in die reën, is hierdie metode van vervoer beslis nie volhoubaar nie. Maak dit lekker. Al bly ’n fliek in die bed altyd die gunstelingding om op ’n koue dag te doen, is daar ook ander dinge wat jy kan doen om jouself te beloon vir jou hard werk om homeostase in hierdie uiterste kondisies te handhaaf. Daar is talle koffiewinkels in Stellenbosch wat heeldag ’n lekker kaggeltjie laat brand om meer gesellig te raak.

Pannekoekbak is natuurlik ook sinoniem met reënweer. Oefen eerder volgende keer jou pannekoek-in-die-lig-omdraai-vaardighede as om te huil oor die feit dat jou handdoek nie meer droog word deur die dag nie.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram