VIR ALMAL Dinge het geruk en rol by Francois van Coke en Vriende verlede jaar.

Willow-Ruby van der Berg gesels met Francois van Coke oor musiek, vriende en ’n lekker kompetisie vir al ‘Die Matie’ se lesers.

Jy ken hom dalk net as die stem van ons generasie of as ’n beoordelaar op die nuutste seisoen van The Voice, maar Francois van Coke is beslis ’n veteraan in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Deur die jare het Van Coke met Suid-Afrika se beste musikante saamgewerk om van ons gunsteling hits te skep en nou sleep hy al hierdie vriende en medekunstenaars saam met hom Kaap toe waar Francois van Coke en Vriende op 3 Mei by Grand West gaan optree.

“Dit is ’n 2 uur lange show met songs oor die afgelope 16 jaar. Ons speel ook ’n paar ander, maar meeste van die tunes is samewerkings waarvan ek deel was gedurende my loopbaan.

“Ek was baie gelukkig om te werk aan groot hits saam met Karen Zoid, Jack Parow, Die Heuwels, Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel en het al saam met almal anders op die line-up geskryf en die verhoog gedeel.

“Ons het die show nog net een keer gedoen en dit was in Pretoria verlede September. Dit was ’n hoogtepunt in my loopbaan en ek weet dit was ook ’n hoogtepunt vir mense wat live musiek luister en kyk. Ons kom met massiewe klank, ligte en produksie. Dit gaan ’n onvergeetlike aand wees, belowe,” het Van Coke gesê.

Francois van Coke en Vriende het verlede jaar afgeskop en geskiedenis gemaak met ’n ongelooflike rock-optrede in Pretoria voor ’n uitverkoopte gehoor van 8 500 mense.

“Dit het nogal gevoel soos ’n prestasie, dit was die grootste show wat ons al ooit aangepak het en dit het gewerk! Die aand was ’n moerse ervaring en ons sal dit weer vir die mense in die Kaap wil gee. So, ek hoop almal van Stellenbosch maak die mission om te kom,” het Van Coke opgewonde gesê.

Jack Parow, Majozi, Fokofpolisiekar, Early B, Die Heuwels Fantasties, Arno Carstens, Laudo Liebenberg ( haal asem) Coenie de Villiers, Riana Nel en Van Coke Kartel gaan die verhoog deel met Francois en Die Gevaar om vir ons ’n onvergeetlike rock-konsert te bring.

Van Coke het ’n spesiale verbintenis met elkeen van hierdie kunstenaars, aangesien hy al saam met elkeen van hulle gewerk het en hulle almal vriende is wat hy oor die jare gemaak het.

Met 16 jaar agter die rug is daar min mense wat die bedryf so goed ken soos Van Coke. “Dit het ongelooflik baie verander oor die jare. Toe ons begin het, was dit CD’s, flyers en toer in ’n bus deur die land, sonder laptops. Nou is dit streaming, boosted posts op Facebook en Instagram, baie vlugte met laptops en selfone wat konstant gebruik word. So, almal se lewens is anders,” het Van Coke opgemerk.

Van Coke is egter nog lank nie van plan om dit rustiger te vat nie. Hy maak altyd seker dat ons iets het om na uit te sien. “Ek gaan ’n nuwe album bek-
endstel met ’n paar nuwe collabs op en sal seker dan van hulle wil
speel by die show. Ek het ’n song saam met die manne van Spoegwolf geskryf wat ons by die show sal speel, onder meer. Ons wil die show verbeter, groter maak en konstant vernuwe, so hopelik word dit ’n jaarlikse instelling,” het hy gesê.

So, as jy lus is vir ’n nostalgiese aand wat rock soos net hy kan, is Francois van Coke en Vriende beslis nie iets wat jy wil misloop nie. In Van Coke se eie woorde: “Hoop ek sien jou by die show. Wees slim, wees braaf en swot hard!” So, maak seker jy kry daardie kaartjie by Computicket.

KOMPETISIE:
Finansies is natuurlik altyd die koue realiteit en daarvoor het jy drie keuses, dalk vier;

Bedel, by ma en pa of goeie ryk pelle.

Steel, bietjie van jou Happy Hour of Neelsie begroting.

Leen dit iewers en belowe om later terug te betaal.

Die vierde keuse is Die Matie se kompetisie waar ons twee kaartjies na Francois van Coke en Vriende gaan weggee aan ’n gelukkige wenner. Vir meer inligting kan jy na ons Facebook-blad gaan, waar die kompetisie geloods gaan word.