RENE ESTERHUYSE


Valentynsdag is gewoonlik ’n dag waarna meeste studente opsien, maar hierdie jaar het Spoegwolf dit vir ons opgekikker met hulle nuutse album, Koma.

“Absoluut oorweldigend. My feet still can’t touch the ground.” Dít is hoe Danie du Toit, die hoofsanger, sy gevoelens oor die nuutste album se sukses beskryf.

Koma het dieselfde oggend wat dit uitgereik is nommer een op iTunes gehaal; en kort daarna die eerste Afrikaanse album geword wat nommer 1 op Apple Music bereik.

Spoegwolf, wat uit Danie du Toit (hoofsanger en kitaar), Chris von Wielligh (kitaar en klavier), Moskou du Toit (dromme) en Albert van der Merwe (baskitaar), bestaan, is al van hul stigting in 2012 ’n groot naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Du Toit sê egter dat die ondersteuning wat hulle vir Koma gekry het, al hulle verwagtinge oortref het.

“Dis overwhelming. Ek kan regtig nie tot die reality van die support wat ons gekry het kom nie. Dit voel asof die mense saam met ons hierdie ding kom dra het. Ek dink die fans is eintlik die grootste deel van die band,” sê hy.

Met Koma het Spoegwolf dinge bietjie anders aangepak om dit te produseer as in die verlede.

“Voorheen sou ons baie songs, geskryf oor ’n tydperk van ’n paar jaar, hê om uit te kies. Ek het dié album one-shot – op een slag – verlede jaar rondom dié tyd geskryf,” vertel Du Toit. Du Toit sê dat hy inspirasie vir lirieke oral om hom in sy daaglikse lewe kry.

“Ek noem dit observasie. Ek skryf maar net die goed wat ek sien,” sê hy. Du Toit sê dat daar baie moeite in die voorbereiding en opneem van dié album gegaan het.

“Hierdie liedjies is elk vier, vyf, ses keer record. Ons het voor die tyd in die bos ’n huis gehuur en almal het daar gebly om net te praat oor die songs. Sonder enige gear. Ons het letterlik net gegaan met ’n pen en papier om uit te figure wat ons wil regkry in terme van klank.” Du Toit sonder die opneem van die album se inleiding uit as een van sy gunsteling dele van die opneemproses.

“Dit was interessant, omdat daar ’n paar tempo changes was, wat aanvanklik vir ons baie daunting was,” verduidelik hy.

Du Toit beklemtoon dat Spoegwolf definitief oor baie meer as musikale sukses gaan.

“Die beste raad wat ek al gekry het was om te onthou: the band is bigger than the music. Op die ou end is jou vriendskap belangriker as die musiek of wat jy bereik. En as jy met vriendskap stick, gaan jy nie noodwendig sukses bereik nie – dit gaan nie soos magic werk nie – maar ten minste gaan jy dit geniet.”

Hy sê juis dat sy gunsteling deel van optree is om dit saam met sy broer en twee vriende te kan doen.

“As ek voor ons begin speel omkyk, en sien hoe my broer daai dromstokkies optel, is dit asof ’n lig agter hom aangaan. En as hy die eerste keer daai kick drum tref, kan ek dit net beskryf as wow. Dít is magic.

“Ons is nie ’n band wat toevallig vriende is nie. Die band is een van die uitvloeisels uit ons vriendskap uit. Ons is eintlik net mal pelle, en dis maar net een van die dinge wat ons saam doen.”

Spoegwolf gaan van krag tot krag. Maar waarna sien hierdie groep vriende uit in die toekoms?

“Ons wil baie graag oor ’n jaar almal onder ’n boom sit met baie liggies, honde en katte en vriendskap. Dis die droom,” sê Du Toit.

FOTO: Zandré Du Preez