LEMUEL BLIGNAUT


Dit word gesê dat die beste manier om Victoriastraat te beleef, is om hom onder vier minute kaf te draf. Dié teorie word vanaand op die proef gestel.

Die negende Straatmylfees vind om 18:00 plaas, en vorm deel van die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees, wat hierdie jaar sy 20ste verjaarsdag vier.

Die geleentheid word elke jaarter ere van US alumnus en voormalige Dagbreek inwoner, De Villiers Lamprecht gehou. Hy was die eerste Suid-Afrikaanse atleet om die droom myl, dit wil sê ʼn myl onder vier minute, te hardloop. Hy het dit in 1964 te Stellenbosch gedoen, en sedert 2011 vier Dagbreek elke jaar daardie geleentheid met die Straatmylfees.

Jaco Abel, die Dagbreek HK-lid wat vir die fees verantwoordelik is, sê hy glo nie daar sal gou iets aan die Straatmyl verander word nie, en dat dit net so sal aanhou voorbestaan.

“Dit val ook altyd in die Woordfees se tyd, en dit moedig mense aan om fiks en gesond te wees,” voeg Abel by.

Die Ou Dagbrekers Bond (ODB), wat die organisasie agter die reël van die fees is, mik altyd dat een of twee bekende atlete deelneem, om dinge interessant te maak.

“Hulle probeer al ʼn klompie jare om Caster Semenya te kry om deel te neem,” sê Abel.

Die jaar neem onder andere

Rynhardt van Rensburg, wat Suid-Afrika by die 2016 Olimpiese Spele in die 800m wedloop verteenwoordig het, aan die padwedloop deel.

Johan Cronjé, ’n driemalige wenner, wat ook nog die enigste atleet is wat ʼn droom myl hier kon hardloop, is ook weer hier om vuur te maak onder die kompetisie.

Eugéne Fouché, ʼn tweedejaar inwoner van Dagbreek, sê: “Ons is almal baie excited oor die Straatmyl, dit is altyd iets lekker wat ons saam doen.”

Fouché gaan self dié jaar aan die Straatmyl deelneem, en hy voeg by dat daar heelwat meer deelnemers, as nie-deelnemers in die koshuis, is.

Sedert 2016 is daar ook ʼn skaatsplank afdeling in die resies, bo en behalwe die 12 afdelings waarin die padwedloop opgedeel is.

Die wedren vir skaatsplanke by die Straatmylfees is die enigste een in Suid-Afrika, en die wenners maak ook gereeld onder vier minute klaar. Hulle staan nie terug vir die deelnemers sonder wiele nie. Sterk kompetisie woed onder die skaatplankryers soos wat elkeen streef om ʼn droom myl te behaal.

Die deelnemers trek by Jan Marais Park, aan die bopunt van Victoriastraat, weg en hardloop straataf tot by die sirkel voor Kruiskerk. Hulle draai dan daar om, en hardloop terug straatop tot by die eindpunt, voor Dagbreek Manskoshuis.

Daar gaan vanaand lewendige vermaak by die geleentheid wees, met onder andere Deidre Barnard, van die gewilde TV-reeks Die Kontrak, wat gaan optree.

FOTO: Verskaf