Varsitybeker: herhaling van 2018

DANÉ DOOGE & ANKE VAN DER MERWE

Tegniek, spanwerk en kohesie: Dit is drie van die beste woorde om Universiteit Stellenbosch (US) se eerste rugbyspan te beskryf.

Op Maandag 11 Februarie, het Maties teen die aartsvyand Ikey Tigers van die Universiteit Kaapstad gespeel. Daar kan sonder twyfel gesê word dat Maties behoorlik vir Ikeys baas geraak het in Maandag se wedstryd.

Dit is die tweede week, die spel teen Wits (Universiteit van die Witwatersrand) op 4 Februarie ingesluit, wat Maties koning gekraai het. Maties het vir Wits 33–17 geklop. In Maandag se wedstryd was die weer nie ideaal nie, omrede die wind die spel beïnvloed het.

In die eerste 16 minute van die wedstryd het Maties se Duncan Saal egter die eerste drie gedruk. In die eerste helfte het die skoppery gesukkel weens die wind en gevolglik is meeste van die punte deur drieë aangeteken.

Toe die wedstryd al 33 minute aan die gang was en Maties met 0–19 voorgeloop het, het Ikeys se Nyasha Tarusenga hul eerste en enigste drie van die wedstryd gedruk.

Vir die res van die eerste helfte se spel het Maties meer balbesit gehad en die besoekers het ook die veld domineer.

Die eerste helfte het afgesluit, met Maties voor op die puntebord. Toe die tweede helfte begin het, het Johan Momsen die eerste drie van die helfte aangeteken. Meeste lede van die span het saamgewerk om Momsen te help om dié drie te druk, wat spanwerk op sy beste uitgebeeld het.

In die laaste 15 minute van die wedstryd, het die span se bene ietwat moeg geraak, wat veroorsaak het dat Ikeys byna weer ʼn drie gaan druk het. Die bal was gou weer in Maties se besit gewees, waarvan Cornel Smit sy driekuns vir die aand gaan aanteken het.

Reinhardt Fortuin het puik geskop in die tweede helfte met die wind en al wat die spel al hoe moeiliker gemaak het.

Die skrum wat in verlede week se spel teen Wits effens problematies gelyk het, het in die week se wedstryd goed gewerk, waarvan Smit nog ʼn drie weens die werk van die skrum in die laaste minuut aangeteken het.

Smit het soveel drieë (vier in totaal) gemaak soos wat hy al op die veld vir Maties verskyn het.

Fortuin het weereens sy skop oorgesit en het die finale telling na 66–5 in Maties se guns gebring.

Uit en uit was dit ʼn goeie wedstryd van Maties se kant af gewees. Ikeys was sterk op die verdedigingskant, maar Maties se taktiek en speelvermoë het dit baas geraak.

“Ons het hulle gerook!” het Lemuel Blignaut, ʼn tweedejaar Bsc Teoretiese Fisika Matie na die tyd gesê.

Die vooruitsigte vir die span lyk sover goed. Maties speel weer 4 Maart op Danie Craven teen Pukke en dit beloof om ʼn riller te wees.

“As ek ʼn Guinnes kraan kan kry langs my media bankie vir die volgende wedstryd, sal ek in rugby hemel wees,” het Andrew Daniel van FNB Varsity Cup gesê. Baie studente deel dalk sy sentiment.

FOTO: Maties Sport

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram