ARMS VOL LIEFDE Sakke vol Bicycle Girl Clothing word aan verskeie studente en besighede verkoop.

 

JANA GREYLING

’n Matie het die kostuums in die nuwe Afrikaanse film Liewe Lisa bedink.

Lumé Venter, finalejaar-BAstudent en eienaar van Bicycle Girl Clothing, het die regisseur van die film toevallig in ʼn koffiewinkel op Stellenbosch ontmoet.

Hulle het begin gesels en na ʼn week of twee het hy genoem dat hulle na ʼn kostuumontwerper op soek is en gevra of sy dalk die posisie wil beklee.

Aanvanklik het Venter gedink hy maak ’n grap, maar sy het vinnig besef dat hy ernstig oor die aanbod was.

“Ek het ingestem en dadelik die karakters begin ontleed en samestellings begin maak, die teks deurgewerk en bronne gesoek,” vertel sy. Volgens haar was dit ʼn verrykende ervaring vol leerprosesse en selfverwesenliking om saam met Kompanjie Stories aan die film te kon werk.

Al van kleintyd af het Venter ʼn passie vir ou klere getoon toe sy begin het om klere uit haar ouma en oupa se kas te dra. Venter vertel: “My ouma het altyd gesê ek is laf omdat ek hierdie verflenterde goed wil hê. Vir my het dit egter gevoel of ek die jackpot geslaan het.” En daarom het sy uiteindelik besluit om haar passie in ʼn betekenisvolle besigheid te omskep. “Ek is behep met die idee daarvan om nuwe lewe te gee aan iets wat eens ʼn storie vertel het. Ek het potensiaal gesien in die eenvoudigste goed en wou kyk hoe ek dit nuwe lewe kan gee. Dit is toe dat ek besef ek het dalk iets hier beet wat ek met mense kan deel,” vertel sy.

Venter droom daarvan om in die toekoms haar eie klerereeks te ontwerp.

Met meer as 800 volgelinge, is Bicycle Girl Clothing ʼn goed gevestigde Instagram-besigheid. Venter het die naam Bicycle Girl Clothing gekies omdat haar fiets, ʼn geskenk van haar broer, haar enigste vervoermiddel op Stellenbosch is.

Sy beweer haar fiets is al deel van haar identiteit. In 2017 het sy selfs 7.5 km agter haar fiets aangehardloop nadat iemand dit buite ʼn winkel probeer steel het.

Venter kon gelukkig die diewe vang en het haar kosbare fiets teruggekry. Venter kry die klere vir haar besigheid van reg oor die land en sê dat sy oral waar sy gaan na klere soek. Sy maak sodoende ook die meeste daarvan dat haar familie deur die hele land versprei leef. “My familie is van orals – van die Vrystaat tot Noordwes tot Gauteng.

Tydens enige vakansie trippie werk ek ʼn lekker scavenger hunt in. ʼn Paar van my gelukkies vind ek by Hospicewinkels oor die verskillende provinsies maar die res van die plekke bly my geheim,” sê sy.

Vir meer inligting besoek gerus @ bicyclegirlclothing op Instagram en wees op die uitkyk vir Venter en haar fiets op kampus.

Liewe Lisa word môre reg oor die land bekend gestel.

Foto: Lumê Venter