OUKEI, BOIS! Rikus de Beer (links) en John Vlismas is van die skerpskertsers wat by die Woord-
fees te sien gaan wees.

 

CARLA VISAGIE


Vanjaar se Stand-up-komedieprogram by die Woordfees lyk só belowend dat dit selfs ’n verkeerskonstabel sal laat tande wys.

Die vlymskerp internet-sensasie, Rikus de Beer (beter bekend as Jonathan van Radio Raps), kom maak vir die eerste keer by die Woordfees ’n draai op 1 Maart. Hy gaan grappige insette oor menslikheid lewer en wys hoe dit ons eie weerloosheid is wat die mens die uniekste spesie maak.

Die krullebol van Kemptonpark is ook weer terug by die Woordfees. Schalk Bezuidenhout gaan te sien wees in sy eenmanvertoning, Snorseun, op 9 Maart.

Vanjaar snoer Schalk Bezuidenhout ook kragte saam met Loyiso Madinga, die Afrika-korrespondent van Trevor Noah se Daily Show.

Hierdie twee gesoute komediante beloof om op 2 Maart jou lagspiere behóórlk in die werk
te steek met hul skreeusnaakse, vlymskerp tweemanvertoning, Broken English.

Twee groot name, Casper de Vries en Khanyisa Bunu, gaan behoorlik gehore se lagtrane laat rol met hul vertoning op 3 Maart. Bunu het verlede jaar groot naam gemaak deurdat sy deel was van Trevor Noah se voorprogram, en De Vries vermaak al vir jare Suid-Afrikaanse gehore met sy koddige aksente en vergelykings.

As jy al emigrasie oorweeg het, gaan Melt Sieberhagen jou kom vertel van ’n effense kleiner skuif: semigrasie. In Semigrasie op 4 Maart skerts Sieberhagen oor sy impulsiewe skuif Kaapstad toe en waarom emigrasie nie vir hom is nie.

Shimmy Isaacs is al ’n ou bekende by die Woordfees en vanjaar is sy in twee vertonings te sien: haar eenvrouvertoning Moenie! op 5 Maart, en nog ’n vertoning op 6 Maart waar sy en die ikoniese Marc Lottering onderskeidelik vermaak van topgehalte sal bied.

 

Studente-afslag

Die volgende stand-up-vertonings het ’n spesiale prys slegs vir studente:

4 Maart: Mariette Loubser se Toeris-Toeris, R65 vir studente en Melt Sieberhagen se Semigrasie, R60 vir studente.

5 Maart: Shimmy Isaacs se Moenie!, R60 vir studente.

6 Maart: Hannes Brümmer se Amper oud, R60 vir studente.

9 Maart: Schalk Bezuidenhout se Snorseun, R60 vir studente.

Kaartjies kan by Computicket of by die deur gekoop word.

 

Foto’s: Verskaf