Die Kaap is Hollands

Dennis Delport

Die Kaap is sowaar Hollands! Geen ander woorde sal my eerste paar weke as ’n Matie kan beskryf nie. Gun my die geleentheid om myself voor te stel voordat ek my storie met jou deel. Ek is Dennis Delport, gegradueerde aan die jol-mekka, die NWU-Pukke.

Drie jaar van my lewe het ek hier spandeer om my graad in kommunikasie en politieke studie te voltooi. Ek was ook deel van ʼn talentvolle groep by die kampuskoerant en Die Matie-vyand – Wapad.

Vanjaar beoog ek om my honneursgraad in joernalistiek by hierdie wonderlike instansie van julle te voltooi. My geskiedenis met Wapad bring die gevoel van opgewondenheid mee. Opgewondenheid om te leer hoe dinge hier werk. Dit bring ook egter ʼn gevoel van ongemak omdat ek nou vir Wapad se “opposisie” skryf en nie eens te praat van die Varsitybeker-finaal van verlede jaar nie. Nietemin voel ek baie geëerd om vir jou en Die Matie te vermaak en by te dra tot die reeds bestaande sukses van hierdie koerant.

Genoeg van die bekendstelling en hartseer verhaal. Ek sal graag vandag vir jou wil vertel van die verskille en ooreenkomste tussen Pukke en Maties en waarom ek geskuif het.

Ooreenkomste sluit in ʼn studentelewe van formaat. Die studentelewe van Maties en Pukke is uniek en jy sal dit net in hierdie twee dorpe kry.  Studente is ook mal oor Varsitybeker-maandae. Ná drie jaar van Varsitybeker-aksie kan ek met sekerheid sê dat die Danie Craven asook die Fanie du Toit [Pukke se tuisveld] altyd stampvol en bankvas agter hul spanne staan.

Ek was egter verstom om verlede Maandag vyftienduisend studente by die wedstryd teen Wits te sien. Die rede hiervoor is dat die Fanie du Toit slegs vyfduisend studente kan huisves.

Verskille sluit in ’n gevoel van behoort. By die NWU het ʼn onlangse korporatiewe identiteitsverandering my die gevoel gegee dat die universiteit totaal en al van sy studente vergeet het. Dit is ook dan die rede vir my skuif. Stellenbosch aan die ander kant het konstante kommunikasie met my gehad met die aanloop tot 2019. Die fasiliteite tot my beskikking hier is ook van beter gehalte. Hiermee bedoel ek dat daar baie meer hulpbronne vir my as student by die joernalistiek-departement beskikbaar is. MatieMedia, die joernalistiek-departement se aanlyn-publikasie, was ook ʼn groot trekpleister gewees, omdat die NWU nie so ʼn praktiese benadering tot sy joernalistiek-kursus bied nie.

Ek is egter dankbaar vir my verlede op die NWU en opgewonde vir die toekoms by Maties.

Tot ʼn volgende keer. 

Foto: Dennis Delport

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram