Carla Visagie

Hoewel eerstejaar-wees baie uitdagend kan wees, is koshuise en PSO’s die wandelstok waarmee eerstejaars hul pad in Matieland kan vind. Die Matie het by ’n paar prims gaan inloer oor wat hulle vir hul eerstejaars beplan.

Courtney Williams, prim van Huis Neethling, meen dit is belangrik om eerstejaars te leer om die regte vrae te vra wat kan bydrae tot hulle welstand.

“Ons leer hulle om hulself af te vra: Dra alles wat ek doen by tot emosionele groei en emosionele stabiliteit? Help my dade my om by te dra tot ’n gebalanseerde, lewende, luisterende gemeenskap? Hoe help my dade my om by te dra tot suksesvolle studie?

“Deur al hierdie vrae poog ons om ’n ontspanne, veilige en konstruktiewe leer- en leefarea te skep waar eerstejaars sekerheid kan kry oor die aard van hulle akademiese roete,” sê Williams.

William Juul, prim van Capri, sê Capri poog om die eerstejaars net so deel van kampus soos die koshuise te maak. Nadat Libertas verlede jaar in Capri verander is, is Capri nou Matieland se nuutste PSO.

“Ons bied ’n wye verskeidenheid aktiwiteite, onder andere ’n eerstejaarskamp waar ons aan die eerstejaars die kans gee om verhoudings te versterk met ander PSO-lede. Die studente kom van baie verskillende agtergronde, dorpe en selfs lande, en ons poog om waardevolle verhoudings tussen hulle te bou.

“Ons bied ’n baie kampus-gesentreerde verwelkomingsprogram waar ons die veranderingstydperk van matriek na universiteit makliker probeer maak vir die eerstejaars. Die doel van die verwelkomingsprogram is om nie net kennis oor te dra nie, maar om vir die studente te kan bied wat ’n koshuis aan hulle sou bied. Ons wil hê hulle moet soveel as moontlik deel van die kampuslewe raak,” het Juul gesê.

Giellie du Toit, onderprim van Pieke, meen verwelkoming is een van die belangrikste tien dae van jou tyd by die Universiteit Stellenbosch.

“Ons program is saamgestel terwyl die ‘hoekom’ in gedagte gehou word, terwyl ons nie net die vrae vra nie, maar ook hóé om dit uit te voer. Só wil ons aktiewe veranderings in die Pieke-familie maak.

“Ons huiswaardes, -visie en -oortuigings dien as die ruggraat van die program, om te verseker dat die eerstejaars kan groei binne ’n raamwerk van eerbaarheid, uitnemendheid, integriteit en diensbaarheid,” het Du Toit gesê.

Pieke se HK vir 2018/2019.

FOTO: Bryce Pendok

HOOFFOTO (van Capri se HK): Linah Jokazi