RENÉ ESTERHUYSE 

Dit is maklik om as ’n moeë student eerder bietjie later te slaap en om betyds daardie 08:00 klas te haal en ontbyt oor te slaan.

Irene Labuschagne van die Voeding Inligtingsentrum van die Universiteit Stellenbosch (NICUS) meen egter dat dit nie so ’n goeie idee is nie. In die lig van Nasionale Voedingsweek en Nasionale Vetsugweek wat pas gevier is, gee Labuschagne raad aan studente oor die belangrikste maaltyd van die dag.

Nasionale Voedingsweek (9– 15 Oktober) en Nasionale Vetsug week (15–19 Oktober) fokus op die belangrikheid daarvan om gesonder en gereelde etes in te neem om vetsug en gesondheidsgevare wat daarmee gepaard gaan, te voorkom; asook om algemene gesondheid te bevorder. Vanjaar se Nasionale Voedingsweek en Nasionale Vetsugweek is gevestig op drie doelwitte: om die gesondheidsvoordele van ontbyt te beklemtoon; om verbruikers aan te moedig om ten spyte van tyd- en begrotingbeperkings gesonde ontbytkeuses te maak; en om inligting te versprei oor hoe om ’n gesonde ontbyt te beplan en voor te berei.

Labuschagne het gesê dat diegene wat ontbyt oorslaan meer geneig is daartoe om ongesonde kos gedurende die dag in te neem, of om te ooreet. Sy het verder vertel dat die oorslaan van ontbyt met fisiese inaktiwiteit en hoër liggaamsmassaindekse geassosieer word. Ontbyt kan ook verstandelike voordele inhou. Labuschagne beveel studente dus sterk aan om meer aandag aan ontbyt te gee.

Ontbyt verwys na die eerste ete van die dag wat die vas na ’n lang tydperk van slaap breek, en behoort binne twee tot drie uur nadat jy wakker geword het, ingeneem te word. Verder het Labuschagne gesê dat ontbyt nie alles op een slag ingeneem hoef te word nie, maar versprei kan word oor die drie uur. Labuschagne waarsku teen geprosesseerde styselkosse, en stel eerder ’n ontbyt wat vesel, lae vet melk en vrugte insluit, voor.

In Suid-Afrika is die bevordering van gesondheid egter ’n uitdaging. Die 2016 Suid- Afrikaanse Demografiese- en Gesondheidsopname het byvoorbeeld gevind dat 68% vroue en 31% mans in Suid-Afrika oorgewig is. “Die aanmoediging van ontbyt is baie belangrik in Suid-Afrika om beide ondervoeding onder kinders, en oorgewig volwassenes aan te spreek. “Elke moontlike geleentheid moet gebruik word om kinders en jongmense se diëte en eetgewoontes te verbeter” het Labuschagne verder verduidelik.

FOTO: Kathryn van den Berg