JANA GREYLING

Die #Move4Food-veldtog wat op 20 Augustus 2018 geloods is, beoog om R10 miljoen in skenkings binne 100 dae in te samel om die voedselsekerheidsinisiatiewe by die Universiteit Stellenbosch (US) in die volgende drie jaar te steun.

Die doel is om behoeftige studente te ondersteun wanneer hulle beursfondse vir kos teen die einde van die jaar uitgeput is.

Die gevolge hiervan is dikwels slegte uitslae van studente tydens die eindeksamen en selfs die staak van graadprogramme.

Volgens Cheryl Benadie, Bestuurder van Skenker- betrekkinge, sorg die veldtog vir groter solidariteit en ondersteuning binne die universiteitsgemeenskap.

Prof. Wim de Villiers, US rektor en visekanselier, het sy ondersteuning vir die veldtog gewys deur die volle Sanlam Kaapstad Maraton af te lê. De Villiers het al bykans R128 000 ingesamel en is een van 110 personeellede en alumni wat geld vir die veldtog insamel. Alumnus Folkers Tullki-Williams wat tans inHelsinki woon, het ʼn 375 km langestaptog deur Estland afgelê om R10 000 vir die #Move4Food-veldtog in te samel.

Hy het sodoende die eerste Suid-Afrikaner geword wat hierdie staptog voltooi het.

Die veldtog het al die een miljoenrandmerk bereik, maar Karen Bruns, Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumni- betrekkinge, moedig verdere alumni in Asië, Europa, Groot Britanje en Amerika aan om ook betrokke te raak by die veldtog.

Die veldtog sluit 27 November,op Internasionale Skenkingsdag af.

PHOTO: Supplied