LEMUEL BLIGNAUT

’n Toets van spoed en handvaardigheid het homself uitgewoed in die eerste stootkarresies wat aan die Universiteit Stellenbosch(US) gehou is, toe agt spanne met handgeboude stootkarre teen mekaar in die parkeerarea voor die Siviele Ingenieurswesegebou gejaag het.

Die uitdunrondes het volgens ’n dubbel-eliminasiestelsel gewerk. Spanne wat twee keer in die uitdunrondes verloor het, is volgens hierdie stelsel uitgeskakel. Die Wimbledon en Victoria Klusters het tot die einde uitgehou, met Wimbledon wat toe die aarbeie en room gekry het om huis toe te neem, na hulle in die finale wedloop geseëvier het.

Die stootkarre is ontwerp deur die Ingenieurswese se Studenteraad, wat op die dag ook aan die resies deelgeneem het met ‘n eerste prototipe as hulle stootkar. Hulle het ook al die onderdele vervaardig, en die planne opgestel. Ben Wolfaardt van dié raad sê hy ondersteun die konsep vir die toekoms, en dat hulle dit in die vervolg graag groter sal wil hê.

“As ons dalk al die koshuise en PSO’s kan kry om teen mekaar deel te neem sal dit great wees.”

Die idee was oorspronklik dat elkeen van die 8 klusters ’n stootkar aanmekaarsit en daarmee deelneem. Kiran Maharaj van Maties Sport, die dryfveer agter die kompetisie sê: “Ons het die onderdele vir die stootkarre net voor Rocking the Daisies vir die klusters gaan gee, en hulle het toe een week gehad om ’n span te werf, en die kar aanmekaar te sit.” Dit het toe egter nie heeltemal so uitgewerk nie. Sommige van die klusters kon nie ’n span saamvoeg om hulle te verteenwoordig nie, wat gapings in die rooster gelaat het.

Sina Fischer, een van die spanlede van BonnieGFlash, die span wat amaMaties, sowel as die US se internasionale studente se naam hoog gehou het, het gesê: “Die kompetisie is tweede op my lysie van beste tye in Suid-Afrika, bo aan die lys is ’n safari, en dan vandag.” Hulle het eers die aand voor die kompetisie via Whatsapp daarvan gehoor, en toe besluit om ’n span saam te stel en een van die beskikbare openinge te vul.

Die oggend is redelik stil gehou, omdat hulle dit as ’n toetslopie wou gebruik vir geleenthede in die toekoms, waar so ’n kompetisie perfek sou kon inpas. “Ons wil dit dalk deel maak van verwelkomingsweek, dit is ’n ideale geleentheid vir die klusters om die groepgees aan te wakker,” het Maharaj gesê

Die kompetisie het op Saterdag 13 Oktober plaasgevind.

 

FOTOS: VERSKAF