CARLA VISAGIE

Star Wars, The Godfather, Forrest Gump en Ballade vir ’n Enkeling; dielys kan verewig aanhou. Maties word al vir 100 jaar vermaak deur flieks, maar gedurende hierdie tyd het die hoe en die waar van flieks baie verander.

Waar alles begin het.

Die eerste beelduitsending wat vir Stellenbossers toeganklik was, was in 1906, toe dit in die Tivoli Musieksaal in Kaapstad uitgesaai is.

Hierdie uitsending was ’n krieketwedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland op Nuweland, maar het geen klank gehad nie. Die koms van klankfilms was egter veel later in 1927, met die eerste Suid-Afrikaanse klankfilm wat in 1931 gemaak is:Sarie Marais, deur Joseph Albrecht.

Fliekvermaak begin studente raak

Daar was reeds in 1958 twee bioskope op Stellenbosch en volgens Wena Visagie, ’n destydse student wat op die dorp ’n sekretariële kursusgedoen het, was die go-to vir studente die Fliekvlooi-bioskoop omdat “hy bietjie goedkoper was as die ander een”. Hulle gunsteling film was King Creole, ’n fliek oor Elvis Presley.

Volgens Visagie was hierdie film heeltemal taboe.

“Dosente het ons gewaarsku oorhierdie flieks en in daardie tyd is sulke films as onwelvoeglik gesien. Tipiesstudent, het dit ons nie gekeer nie enhet dit ons net aangevuur om die fliek te gaan kyk.”

Ag pleez deddy

Inry-teaters het hul verskyning gemaak in die 1950’s en het bestaan uit groot buitelugskerms met ’n projektor wat die beeld wys.

Die klank het vanaf luidsprekers wat deur die vensters van voertuie gehang het, gekom. Inry-teaters was so gewild dat dit selfs in liedjies hul verskyning gemaak het, soos Jeremy Taylor se “Ag pleez deddy”. Volgens Jessie Maritz, ’n alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US), was daar nog nie baie studente met karre destyd nie, maar vir die wat karre gehad het was die inry-teater ’n gewilde bestemming, en verversings is gewoonlik verskaf op ’n skinkbord wat jy aan jou voertuig se venster kon hang.

Die Vlakte en filmteaters

Apartheid het selfs ’n rol in bioskope van die 1960’s en 1970’s gespeel. Volgens ’n berig in Die Burger (29 Maart 2017), was die Gaiety-bioskoop in Andringastraat in die “sosiale bymekaarkomplek van die bruin gemeenskap”.

Televisie, tegnologie en teaters

Die koms van die televisie in Suid-Afrika in 1976, of “beeldradio” soos dit eers bekendgestaan het, het die hele land op hol gehad en het ’n groot invloed op fliekteaters gehad, want dit het mense in staat gestel om flieks te kan geniet in die gemak van hul sitkamers.

Studente sien nie televisie vandag meer as hul hoofbron van vermaak nie, en daar is min studente oor wat nie hul fliekdosis kry deur óf hul eie Netflix- intekenaarskap, óf deur goeie vriende met een of ander oom of tannie wat Netflix het, wat “jy ook sommer kan gebruik” nie. Vandag is die enigste teater wat in Stellenbosch oorleef het Pulp Cinema, in die Neelsie. Pulp het in Januarie 2011 oopgemaak en volgens Werner de Swardt, eienaar van Pulp, was die doel daaragter om ’n meer formele en permanente plek te skep vir die Filmvereniging van die US. De Swardt sê Pulp se lidmaatskap het baie toegeneem die afgelope sewe jaar en dit wys die waarde wat studente daaraan heg om deel van ’n gemeenskaplike ervaring eerder as ’n individualistiese een te wees.

Photo: Heléne Leonard