CHRISTIAAN ESTERHUYSE

Die Jan Marias Natuurreservaat vier hierdie jaar saam met die Universiteit Stellenbosch (US) sy honderdste bestaansjaar.

Dié natuurreservaat lê in die hartjie van Stellenbosch en toegang is verniet. In 1915 het Jan Marais in sy testament £10,000 (ongeveer R185 745) aan die Munisipaliteit van Stellenbosch bemaak om die Jan Marais Natuurreservaat te stig. Die grondpad wat deur die reservaat loop was die ou pad uit die dorp na Jonkershoek. Links van die ingang het die destydse burgermeester, Charlie Neethling, in 1919 ’n groot eikeboom geplant.

In die gebied is daar meer as 150 verskillende plantsoorte wat voorkom waarvan almal inheems is behalwe vir ’n enkele paar boomsoorte soos die denne, bloekoms en eike. Daar is ook ’n paar diersoorte wat in die natuurreservaat gesien kan word. ’n Paar grysbokkies het in die reservaat hul tuiste en lae draadheinings moes opgesit word sodat hulle nie die jong plante afvreet nie. Suikerbekkies word gewoonlik naby heide en aalwyne aangetref terwyl tarentale altyd iewers in die oog is. Twee soorte skilpaaie naamlik die bergskilpad en die rooipens kom ook in die gebied voor.

’n Buitelug gimnasium is veral gewild onder studente en die reservaat se voetpaaie is in die oggende en laatmiddae vol drawwers. Die speelpark is ten volle toegerus met klimrame en swaaie.

Die voetpaaie is versier met indrukwekkende kunswerke soos die iMadiba projek wat geskep is deur Erhardt Thiel. Die kunstenaar het die afmetings van Nelson Mandela se tronksel op Robbeneiland geneem waar Mandela 18 van sy 27 jaar in die tronk deurgebring het en dit in ’n bankie omskep. Dié interaktiewe kunswerk se doel is om mense te oorreed om saam te sit en gesprekke te voer wat sal lei tot positiewe verandering vir Suid-Afrika.

Die natuurreservaat het vir die afgelope 100 jaar ’n gebied geskep waar natuurlewe bewaar word en waar mense heen kan gaan om die vrede van die natuur te kan ervaar en waardeer.

FOTO: Armin Prinsloo