Carla Visagie

Die #Move4Food-veldtog wend alle pogings aan om hulle teiken van R10 miljoen in 100dae te bereik.

Met die donasiedag wat op 20 en 21 September van 13:00 tot 13:00 gehou is, is daar selfs nader aan hierdie mylpaal beweeg.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Universiteit Stellenbosch (US) wat Maties die geleentheid gegun word om deel te vorm van ’n fondsinsameling wat 24- uur duur.

Om die teiken van R10 miljoen te bereik, is daar ’n 24-uur spinathon in die Neelsie gehou deur Singletrack, ’n  etsry-gefokusde gimnasium in Stellenbosch in samewerking met die Alumni-kantoor van US. Die Donasiedag het ’n totaal van R350 000 in kontantdonasies en R550 000 in niebederfbare voedseldonasies ingesamel. Dit alles merk ’n totaal van R900 000 teenoor die R1 miljoen teiken wat gestel is.

Alessandra Bielich, ’n tweede jaar- BRek-student, het met die idee van ’n 24-uur spinathon vorendag gekom, ná sy aan ’n soortgelyke geleentheid by die V&A Waterfront deelgeneem het. “Op skool het ek aan die Habitat for Humanity-veldtog deelgeneem, waar ons ook  ets getrap het om fondse in te samel om die minderbevoorregtes te help,” het Bielich gesê.

Die spinathon is opgedeel in skofte van 10 minute, en studente het R20 vir elke skof betaal. “Ek het gedink ons sal moet inspring en deelneem, maar ek het nie verwag dat dit so intens gaan wees nie. Ek het getrap dat my bene pyn, maar dit was baie lekker,” het Kayla Odendal, ’n derde jaar BA(Regte)- student en HK-lid van Harmonie, gesê.

Studente kon ook op ’n ander manier aan die fondsinsameling deelneem deur deel te wees van die telethon by Admin B. Leiers van verskeie koshuise het regdeur die week van 17-21 September alumni gebel om hulle aan te moedig om donasies te maak vir die #Move4Food-veldtog.

Volgens Danielle Lifschitz, die primaria van Lydia, is die alumni van koshuise se terugvoer op die fondsinsameling oorwegend positief. “Dit was vir my baie interessant om te hoor hoe dit gaan en hulle praat oor wat hulle sien in Stellenbosch en om weer die nostalgie van hulle verlede te ervaar. Die ouer mense is meer bereid om te help as dié in hul middeljare aangesien hulle in meeste gevalle besig is om óf te werk, óf met hulle kinders,” het Lifschitz gesê. Nico Strauss, onderprimarius van Majuba, meen dit is nie net ’n manier om fondse in te samel nie maar ook om verhoudings met vorige geslagte te versterk.“Dis ook ’n goeie manier om ons bande te versterk met die alumni, mense is baie vriendelik en wil graag help,” het Strauss, gesê.

Die Engineering Without Borders-organisasie het verder gehelp om die #Move4Food-veldtog ’n sukses te maak deur ’n reuse kosblik in die Neelsie te installeer waarin studente niebederfbare kos donasies kan maak.

Teen die einde van die Donasiedag was daar ’n totaal van 15113 niebederfbare voedselitems daarin. “Dankie aan almal wat die #Move4Food-veldtog ondersteun. Julle het die probleem van studente wat nie genoeg het om te eet nie herken, dit ter harte geneem, en gereageer daarop. Kom ons hou aan om te beweeg vir kos,” het prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier op 21 September in ’n video op die US- webtuiste gesê.

FOTO: CARLA VISAGIE