S.Z Minnaar

Diegene wat verlede week verby die Thom geloop het, sou ’n paar kleurvolle karakters gewaar het. Dit was egter nie ’n weeklange huisfondsdans nie, maar die US drama-departement wat Raponsie op die planke gebring het.

Raponsie is ’n kinderteaterstuk wat losweg op die verhaal van die gelyknamige sprokieskarakter gegrond is. Hierdie Raponsie het egter ’n paar eksentrieke kinkels en karakters by. Dit is die eerste
produksie van sy soort wat in die HB Thom-teater speel sedert dit vir opknappingswerk gesluit is.

Schalk van der Merwe, skrywer en regisseur, het gesê dit was lekker om te sien dat studente weer terug in ’n teater is wat voluit werk: “Dit is die eerste keer wat ons in die teater terug is en die nuwe ruimte is lieflik.” Van der Merwe meen ook dat die produksie ’n kernaspek vir al die dramastudente is. “Dit is waar die studente wat spel en spraak en beweging doen, almal bymekaargetrek word.”

Meer as vyftig studente en personeel van die drama-departement werk al sedert Maart om die produksie op die planke te bring. Die rolverdeling het uit meestal tweedejaar- en derdejaar-dramastudente bestaan.

Roelien van Jaarsveld, dramastudent en verhoogbestuurder, sê dit was ’n voorreg om die eerste verhoogbestuurder van die eerste departementele produksie in die “nuwe” HB Thom-teater te wees.
“Dit was partykeer moeilik om almal bymekaar te hou, maar almal het goed saamgewerk. Dit is die eerste keer wat ek met so ’n groot cast werk. Ons het almal saam gelag en saam gehuil en op die ou end het daar baie vriendskappe ontwikkel,” het sy gesê.

“Ons almal sien verskriklik uit na wat die toekoms inhou vir die teater en toekomstige produksies,” het sy bygevoeg.

Maties wat nie Raponsie gesien het nie, kan na die tweede semester uitsien. Die drama-departement gaan onder andere die Première-fees, wat uitsluitlik uit dramastudente se oorspronklike werk bestaan, en nog ’n grootskaalse produksie.

Foto: Janke van Schalkwyk