Dané Eloff

“Ek is vir ewig dankbaar vir die oomblikke en die verhoudings wat gebeur.” Só beskryf dr. Suzanne Ferreira, dosent aan die departement Sportwetenskap en bekende afrigter van Paralimpiese atlete, haar reis met parasport.

Ferreira kom van Patensie in die Oos-Kaap af “wat ’n baie klein plattelandse dorpie is”. Sy meen dit is een van daardie dorpies waar jy maar moes deelneem aan die sporte waarvan jy nie gehou het nie, want anders was daar moontlik nie ’n span nie.

Haar hoërskool onderrig het op Humansdorp plaasgevind en sy noem dat die onderwysers wat die grootste impak op haar lewe gehad het, die sportafrigters was. Ferreira het daarna Stellenbosch
toe gekom waar sy haar BSc (Sportwetenskap) geswot het, wat toe nog menslike bewegingskunde genoem was. Haar aanvanklike doel was om terug te gee en te gaan afrig.

“Want afrigting het ’n impak op my lewe gehad,” het sy verduidelik.

Stellenbosch is in daardie jare as basis vir die oefening en afrigting van die land se Paralimpiese atlete gebruik. Oefenkampe is aangebied en Ferreira het as student vrywillig betrokke geraak en ervaring opgedoen. Die kombinasie van paraoefenkampe en persoonlike uitdagings, Ferreira se oupa het self ’n beroerte gehad, het haar passie vir mense met gestremdhede laat groei.

Verder het die deure vir haar een vir een oopgegaan en uiteindelik het sy ook die geleentheid gehad om vir ’n magistergraad te studeer. “Die ongelooflike mense met wie ek gewerk het, die vermoë van hulle om dinge te doen wat ek nooit in my lewe gedink het hulle kan doen nie, het my met ontsag gelaat,” het sy oor haar ervaring met para-atlete vertel.

Hilton Langenhoven, Suid-Afrikaanse Paralimpiese-atleet, het Ferreira in 2003 met sy droom om aan die 2004 Paralimpiese Spele deel te neem, genader. “Hy vra toe of ek hom sal help, want daar was nie geleenthede nie. Ek wou by sy hele storie betrokke raak. Ek kon ’n verskil maak. Hy het in my geglo,” het sy gesê. Langenhoven het toe aan daardie Paralimpiese Spele deelgeneem en ‘n silwer medalje vir verspring ontvang.

Ferreira het later lidmaatskap van die betrokke nasionale federasies en die Paralimpiese- en Statebondatletiekspanne van Suid-Afrika gekry. Middae vir Ferreira (buiten klasgee) bestaan uit oefening met kortafstand-atlete. Vier para-atlete en een Olimpiese atleet word tans deur haar geoefen.

En gestremdhede? Vir Ferreira maak dit die reis kreatief en uitdagend. “Dinge moet anders wees, dit moet aanpas, dit moet nuut wees en daar is iets van ’n mensweesdimensie,” het sy bygevoeg.
“My afrigtingsfilosofie gaan oor verhoudings. Die reis wat ek saam met die atlete stap, is die rede hoekom ek dit doen. Daar is iets wat gebeur as ek saam droom, as ek saam stap.”

Oor dosent wees wens sy vir meer tyd vir persoonlike interaksie met studente. Maar die wete dat daar inkoop in ander se lewens is, is wat Ferreira steeds dryf.