Elodi Troskie

Mercy Kannemeyr (23) is stilweg besig om groot geraas in die dramabedryf te maak. Kannemeyer is tans met haar meestersgraad in toegepaste teater besig. Dit is teater met ’n spesifieke fokus op sosiale verandering en verbetering. In haar tesis ondersoek sy hoe hedendaagse aktivistiese kwessies in teater manifesteer.

In 2017 het sy met Die Ander Kant, ’n dokumentêr wat sy self vervaardig het, naam gemaak. Die dokkie ondersoek wat daar te verloor is indien Afrikaans finaal as tersiêre onderrigtaal afgeskaf sou word. Die Ander Kant het ’n erepenning van die Afrikaanse Taalraad ontvang.

Kannemeyer is ook aan boord van die toneelstuk Die Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika (NRNNSA) wat in 2017 by die Vrystaat Kunstefees debuteer het. Sy het die stuk se regie vir vanjaar se US Woordfees, KKNK en Suidoosterfees behartig.

Die geselskap van NRNNSA, ’n groep derdejaar-dramastudente van Matieland, het Kannemeyer aan die einde van verlede jaar genader om die regie van die stuk oor te neem. Sy het ’n vroeëre weergawe van die stuk in 2016 gesien, toe dit vir die eerste keer as ’n praktiese eksamen opgevoer is.

“Ons leer almal by mekaar en dit is lekker. Die cast is baie slim en skerp en so snaaks! Ek lag baie lekker vir hulle,” het sy gesê.

Die lekker kom egter met uitdagings.

“Om repetisietye tussen klastye en ander verpligtinge te vind, is uitdagend. Ons moet maar doen wat ons kan,” het sy gesê.

Sedert NRNNSA op die planke gebring is, het die stuk al ’n hele paar toekennings ingepalm. By die onlangse Suidoosterfees is NRNNSA as beste NATi-Jongsterre-produksie vir styl, regie, ontwerp en ensemble bekroon.

Kannemeyer meen dat die stuk so goed vaar omdat dit relevant en satiries is.

“Mense kan daarvoor lag en ook hopelik na die tyd daaroor dink. Transformasie het mos nou ’n buzz geraak en dié show doen so goed omdat dit belig hoe ver ons nog het om te gaan voor ons werklik getransformeer kan wees,” het sy gesê.

Kannemeyer se raad vir dramastudente wat in regie belangstel is om baie teater te kyk.

“Dit help egter nie jy kyk net teater wat deur groot name gemaak word nie. Jy moet alle teater kyk – beide amateurs en professionele mense. Kyk ook teater wat nie in tradisionele teatervenues plaasvind nie,” adviseer sy.

By vanjaar se KuKo Toneelfees het Kannemeyer die toneelstuk regisseur wat met die toekennings vir die beste produksie, aktrise en regie weggestap het. Die stuk, Upsize 2.0, handel oor vier vroue en hoe hulle oor hulle liggame voel. Die teks is deur Nane Zietsman geskryf.

Kannemeyer beskryf die ervaring as goeie oefening in teatermaak om teen so ’n spoed te werk. Sy beskou dit ook as ’n groot leerkurwe. Die geselskap beoog om die stuk in 2019 by verskillende kunstefeeste in te skryf.

Sy is tans ook besig om twee toneelstukke klaar te skryf wat sy beplan om volgende jaar op die planke te bring.

Foto: Dayna Tate