Kara van der Berg

James Murphy, ’n HonsBCom (Finansiëlebestuur)-student, het ’n ver pad gekom sedert hy begin studeer het.

Murphy het Stellenbosch toe gekom om hokkie te speel vir Maties, maar het as ’n Matie-rugbyspeler opgeëindig. “Ek is gevra om vir Academia in die eerstejaars toernooi te speel, maar net vir die pret,” het Murphy verduidelik. “Ek het toe die proewe vir die o/19A-span gemaak, en wou nie die geleentheid opgee nie, so toe gaan ek na die proewe en toe maak ek die span.”

Voordat hy Maties toe gekom het, was Murphy in Bishops College, waar hy hokkie gespeel het. “Ek het hokkie gekies, maar nog steeds my rugby voortgesit; ek het vir WP touch rugby gespeel asook die interhuis sewestoernooi,” het Murphy gesê.

Murphy is vanjaar vanuit die Maties Sewes-span vir die Blitzbokke gekies vir die HSBC-sewestoernooi in Hong Kong. Hy het sy internasionale debuut teen Suid-Korea gemaak, waar die Blitzbokke 45–0 gewen het. “Ek kon nie droom van ’n beter plek om my debuut te maak nie,” het Murphy gesê.

James besef die belangrikheid van hierdie toernooi vir die res van sy loopbaan. “Die hele ondervinding was baie senutergend aan die begin, maar op ’n manier was dit baie gerusstellend te danke aan die spelers en afrigters. Ek het geweet ek moet myself bewys en dit was my geleentheid.”

Murpy het in Januarie by die Suid-Afrikaanse sewesakademie in Stellenbosch aangesluit. “Maties was definitief die basis vir my sukses sover. Daar was genoeg hulpbronne beskikbaar om my
potensiaal te vergroot.”

James se volgende doelwit is om ’n plek in die toerspan na die Seweswêreldbeker in San Francisco in Julie te kry. Dit sal ’n stap in die regte rigting tot sy finale doelwit wees.

Foto: Verskaf