Elodi Troskie

’n Dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), Johannes de Villiers, se nuutste boek, Kalmte in die malle gejaag, is die afgelope paar weke nommer een op Exclusive Books se topverkoperlys.

Sy boek handel oor mindfulness vir besige mense, soos die subtitel lui, en bestaan uit stories van mense wat deel hoe hulle ’n vars blik op die lewe gekry het. Dit is die derde boek uit sy pen en De Villiers, wat al sedert 2000 by die beoefening van meditasie en bewustheid betrokke is, deel ook praktiese wenke hoe om asem te skep te midde van ’n gejaagde lewe.

NB-uitgewers het De Villiers in 2016 gekontak en voorgestel dat hy ’n boek oor hierdie onderwerp skryf. Op daardie stadium het hy as joernalis by Huisgenoot gewerk. Dié oud-joernalis en yoga-instrukteur doseer nou aan die departement Joernalistiek.

“Hulle wou hê ek moes my lewensverhaal skryf van hoe ek in die Ooste gemediteer het. Ek het nie geweet of dit so goed sou werk nie, maar ek het wel besef dat ek al baie interessante mense leer ken het,” vertel De Villiers.

Hy het toe besluit om oor sy reise te skryf en die mense wat hy só ontmoet het.

Hy het onderhoude met mense gevoer wie se kalm teenwoordigheid ’n indruk op hom gemaak het. Hy wou uitvind wat hul filosofieë is en hoe hulle deurlopend so ontspanne bly.

Hy vertel onder andere die verhaal van die aktrise, Antoinette Louw, wat vir ’n week in ’n grot in die Sederberge gaan sit het met die doel om haar kop skoon te kry.

Hy skryf ook oor ’n vrou wie se hart gaan staan het en ervaar het hoe sy haar laaste asem uitblaas voor sy weer bygebring is.

“Toe sy wakker raak, het sy besluit dat sy nou na elke asem en elke ervaring gaan kyk soos sy na daai laaste asem gekyk het,” vertel hy “Dit klink nou cheesy, maar daar is sóveel in die lewe. Dit is wat mindfulness en hierdie mense se stories is.”

Hy meen dat die lewe vir baie mense “net ’n klein bietjie anderkant die horison is”.

“Tot jy op ’n punt kom waar jy besef dat jy nie eintlik jou lewe bereik nie. Jou lewe is hierdie ding wat jy omwens.”

De Villiers sê dit kan baie maklik wees om kalmte te vind. Hy meen egter dat studente nou onder baie meer druk verkeer as wat jare gelede die geval was en hy deel vyf praktiese wenke, spesifiek vir besige studente:

1. Gee baie drukkies om sodoende die hormoon oksitosien in die liggaam vry te stel. De Villiers beveel dit aan om ’n hond te kry of om af en toe die DBV te besoek.
2. Drink minder koffie en alkohol.
3. Gee elke nou en dan iets weg.
4. Stel jou selfoonskerm swart en wit om skermtyd te verminder.
5. Sit elke dag 10 minute op sy waar jy absoluut niks doen nie.

De Villiers nooi studente uit na die gratis meditasieklasse wat elke Dinsdagaand om 19:30 by The Hot Yoga Studio in Stellenbosch, waarvan hy die mede-eienaar is, aangebied word.

Dié oud-Wilgenhoffer het voorgraads aan die departement Inligtingswetenskap studeer en in 1999 sy honneursgraad in joernalistiek behaal. Daarna het hy onder meer by Die Burger, Rapport, Huisgenoot en ’n koerant in Arabië gewerk.

De Villiers het die wêreld al plat gereis: hy het al in ’n klooster in ’n oerwoud in Myanmar gewoon, onder leermeesters in Amerika studeer, vir ’n jaar in Engeland gewoon en stories in Israel, Estland en Malasië gedek.

Na 15 jaar in die joernalistiek het hy egter besluit om rustiger te raak.

“Ek kan die tegnieke van die joernalistiek gebruik om die storie te vertel waaroor ek nou opgewonde is,” sê hy.

Hy beplan om net tot die einde van die jaar klas te gee, waarna hy hom voltyds wil toewy aan die wetenskap van hoe om gelukkiger en kalmer te wees. Vir sy volgende boek wil hy graag ’n gruwelroman skryf.

“Hierdie was’n lekker diep boek. Nou wil ek ’n vlak, trashy roman skryf.”

Sy vorige twee boeke handel onderskeidelik oor spookstories en die maniere waarop die wêreld moontlik kan eindig.

“Ek het hierdie boek geskryf om almal tot bedaring te bring, maar die res van die tyd hou ek daarvan om mense se hare orent op hul koppe te laat staan.”

De Villiers se drie moet-lees-boeke is Dan Harris se 10% Happier, Tolkien se The Hobbit en Peter Singer se The Most Good You Can Do.

Kalmte in die malle gejaag is teen R260 by boekwinkels beskikbaar.

Foto: Misha Jordaan