Lisa de Clerq

Elke Matie het heel moontlik al oor die groep gewonder wat elke vakansie op ’n bus klim en terug kom met regte #YOLO foto’s. Hiérdie groep staan as die Berg- en Toerklub (BTK) bekend.
Die Matie het meer oor een van Stellenbosch se oudste en grootse studenteklubs gaan uitvind.

Wat is die BTK?

Die BTK is ’n studenteklub aan die Universiteit Stellenbosch wat buitelug aktiwiteite, van daguitstappies na Jonkerhoeks tot rugsaktoere in die Drakensberge, reël. Die klub is in 1928 gestig en vier vanjaar hulle 90ste bestaansjaar. Die klub bestaan tans uit ongeveer 725 lede.

Wie is die BTK?

Volgens Mart-Marié Serfontein, BTK-bestuurslid, is hulle ’n groep “lekker mense” wat van die buitekant af baie mal lyk omdat hulle Pieke op ’n gereelde basis uitklim.
“As jy eers op ’n toer was, sal jy verstaan dat ons doen wat ons doen omdat ons ’n liefde vir die natuur en mense het,” het sy gesê.
Iemand wat by die BTK wil aansluit, moet iemand wees wat ’n liefde vir die natuur het, dit geniet om aktief te wees en bereid is om met nuwe en verskillende mense oor die weg te kom.

Vinnige Feite

1. Die afkorting BTK is in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal gelys. ’n Mens kan ook BTK, byvoorbeeld: “Oor die naweek BTK ons.”
2. ’n Lid van die BTK is ’n BTKaner.
3. Van 1933 tot 1973 het die BTK verpligte kakiedrag gehad. Vrouens moes byvoorbeeld kakierompies gedra het as die groep langs ’n publieke pad geloop het. Tans is daar geen verpligte BTK-drag nie.
4. Die BTK besit ’n berghut naby Hermanus.
5. Daar is gerugte van ’n destydse toer wat by die Rooiplein begin het en by die Jan Marais-park opgehou het.
6. Daar bestaan derde of selfs vierde generasie BTKaners.

Woordelys

Gala: Die staptoer wat aan die einde van elke jaar plaasvind. Dit is gewoonlik tussen vier tot vyf dae lank en vind kuslangs plaas.

Tone: Die persoon wat tydens die toer vir noodhulp verantwoordelik is. Tone is die liggaamsdeel wat die meeste tydens ’n staptoer skade opdoen.

Sketse: Die dagboekinskrywings wat elke dag op ’n toer neergepen word.

Foto: Elvin Stemmett