Alhoewel hy nog net twee jaar in die musiekbedryf werksaam is, maak Almero reeds groot golwe. Carla Visagie het met hierdie liedjieskrywer, digter en sanger gesels oor, onder andere, mense wat te min oor belangrike goed praat en sy toer met Bouwer Bosch.

Wie is Almero as hy nie die ou agter die mikrofoon is nie?

Ek is 20 jaar oud. My gunsteling woord is “koek”. Ek het ’n geboortemerk op my linkerknie. Ek soek dringend iemand om mee te trou.

Hoe het jou musiekloopbaan begin?

Ek het na skool Mosselbaai toe getrek vir ’n gap jaar saam met my broer, Nico. Ons het daar videos begin maak van liedjies wat ek sommer vir die lekkerte geskryf het. Bouwer Bosch het op een van my liedjies afgekom en ons Johannesburg toe genooi om daar saam met hom aan verskeie projekte te werk. Dit was in 2016 en sedertdien is ons volstoom aan die gang.

Watter temas gebruik jy graag in jou musiek?

Ek spot graag dat die Afrikaanse musiekmark net uit liefdesliedjies bestaan, maar ek vind dat ek self eintlik net oor verhoudings skryf. Ek hou daarvan om mense se stories deur middel van musiek te vertel.

Wat is die storie agter een van jou nuutste liedjies, “Flikkerligritmes”?

Ons het altyd Kaap toe gery, want Bloemfontein het nie ’n see nie en wanneer jy bad, tel dit nie as swem nie. Ek het altyd tydens die hele rit geslaap, maar die beste deel van die hele trip was om deur my pa wakker gemaak te word. Die aanduiding dat ons Colesberg toe afdraai, met die doel om koffie te koop, het altyd daarna gevolg. Dit het dan gevoel of die tyd bietjie gaan stilstaan. Dit is wat ek met verlief wees assosieer en nie daardie deurmekaar gevoel van vlinders in jou maag waarvan almal praat nie.

Wat is van jou gunstelingliedjies?

“Runaway” van Matt Corby, “Bittermaan” van Spoegwolf en ek het nog ’n duisend ander.

As jy ’n dag met enige 3 mense kon spandeer, wie sou dit wees en hoekom?

Ek sou graag ’n dag met die verledeek, toekomstige-ek en huidige-ek wou spandeer. Ek dink hulle kan baie goed by mekaar leer.

Wat is die vreemdste ding wat ’n aanhanger al vir jou gevra het?

Iemand het my gevra om te trou. Ek het ongelukkig nee gesê weens die feit dat sy ses jaar oud was.

Wat is jou droom vir die volgende paar jaar?

Ek is besig met ’n solo-album wat hopelik hierdie jaar gaan uitkom. Ek wil ook graag vanjaar meer reis, veral oorsee. Ek wil graag meer slaap.

Vertel meer van jou nuwe  digbundel, Donderweer Gedagtes.

Dit is ’n versameling stories, gedigte, briewe en kortverhale oor al die lelike dinge van die lewe. Die dinge waaroor min mense eintlik praat. Ek voel ons as Afrikaanssprekendes is daaraan gewoond om belangrike kwessies wat moeilik is om oor te praat, onder die mat in te skuif. Ek hoop hierdie boek begin moeilike gesprekke.

Wie of wat inspireer jou om te skryf?

Verhoudings tussen mense, familie (veral my ouma) en vriende.

Het jy tans nog iets in die pyplyn?

’n Solo-album in samewerking met Danie du Toit van Spoegwolf en ander flippen lekker musikante.

Hoe het jy en Bouwer Bosch op julle optredes saam besluit?

Bouwer toer gewoonlik een keer per jaar deur die Kaap en ek was bevoorreg genoeg om saam met hom te kan optree. Ons was in Bloemfontein, Wellington, Sellenbosch en Paarl.

Foto: Verskaf