VER[r]AS-bekendstelling

Kara van der Berg

Die Vereniging vir Afrikaansstudente (VER[r]AS) se jaarlikse bekendstelling het Donderdag, 12 April by die HB Thom-teater plaasgevind.

VER[r]AS is die amptelike studentekomitee van die Universiteit Stellenbosch se departement Afrikaans en Nederlands. Du Toit Albertze het die funksie afgeskop met sy selfgeskrewe eenpersoonstuk, Die Meerminkompleks, wat onlangs by die KKNK gedebuteer het en vir drie Kannatoekennings genomineer is.

Daarna het S.Z. Minnaar, derdejaar-BA-student en VER[r]ASvoorsitter, die komitee bekendgestel en ’n oorsig van al die komitee se opkomende bedrywighede gegee. Vanjaar se komitee bestaan verder uit Aletta Simpson, Anri Els, Arno Carolus, Cornel Koorts, Emile Opperman, Jana Scheepers, Jonathan Malan, Kayla Muller, Mari van der Merwe, Meagan Stephens en Natasha Harmse.

Die komitee se tema vir die jaar is ook bekendgestel, naamlik “spe(e)l”.

“Daar is ongelooflike talent in die departement Afrikaans en Nederlands en VER[r]AS is onder andere daar om ’n platform te gee vir al daardie kreatiwiteit. VER[r]AS gaan probeer om vanjaar op ’n lekker speelse manier geleentheid te gee aan almal wat kreatief verkeer in Afrikaans,” het Minnaar gesê.

Verskillende studentedigters uit Penseel 2017, asook digters wat in Nuwe Stemme 6 gepubliseer is, soos Marcel Spaumer, Remona Voges, Ryan Pedro en Elodi Troskie, het van hulle werk voorgelees.

Penseel is ’n studentebundel wat jaarliks deur die VER[r]AS-komitee saamgestel en uitgegee word en Penseel 2017 is ook onlangs herdruk. Penseel 2017 is teen R70 beskikbaar.

Vir bundelverkope kontak Liana Roos by lroos@sun.ac.za of +27 21 808 2158.

Foto: Ruan Goosen

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram