Carla Visagie

UP SIZE 2.0 het vanjaar as die wenner by die KuKo Toneelfees weggestap. Die toneelstuk, wat deur ’n groep nagraadse studente op die planke gebring is, handel oor die manier waarop mense met die voller figuur behandel word en raak kwessies soos fatshaming aan.

UP SIZE 2.0 het verder nog twee toekennings ingepalm: Mercy Kannemeyer het in die kategorie beste regie gewen en Marichje de Necker is as die beste aktrise van die fees gekroon.

Huis Ten Bosch se Nóg Geestelik, Nóg Beestelik het in die tweede plek geëindig. Aletta Simpson en Andries Meyer het in die kategorie beste nuutgeskrewe teks gewen en Robert Hindley is ook as die beste akteur van die fees aangewys. “Hierdie stuk was vir ons ongelooflik interessant en die produksiespan het ons voorstelle van die vorige ronde ter harte geneem en dit gaan uitvoer,” het een van die beoordelaars, Corné Kruger, een van die beoordelaars, gesê.

Simonsberg en Metanoia se 7 Stages het in die derde plek geëindig. Hierdie stuk se toneelspel het veral uitgestaan, want nie alleen is Luke White as die beste akteur in ’n ondersteunende rol aangewys nie, maar die geselskap is ook as die beste ensemble bekroon.

Shira Theron is as die beste aktrise in ’n ondersteunende rol aangewys vir haar rol in Harmonie en Majuba se SAPC.

Franco Bassi en Reuben Murphy het in die kategorie beste audovisuele produksie met die louere weggestap vir die tegniese versorging van Nerina en Helderberg se The real Housewives of Stellenbosch.

Die beoordelaarspaneel het uit Corné Kruger, Ané van den Berg, Caitlin Wiggill en Izak Berg bestaan.

Foto: Carla Visagie