Ons is almal Mixed Mense deur die oë van Emile YX?

Tivan Leak

Emile Jansen, beter bekend as Emile YX?, het al in meer as 16 lande saam met kunstenaars soos Duran Duran, K’naan en Brenda Fassie opgetree.

Hy is ook ’n stigterslid en die mentor van die groep Mixed Mense. Mixed Mense het ontstaan nadat vier jong manne Emile genader het om hulle van hip-hop te leer. Mixed Mense was aanvanklik slegs ’n praktiese hip-hop skool  gewees, wat Emile saam met hom op toere na skole en byeenkomste geneem het.

Naas Emile is daar twee ander vaste lede in die groep en een vryskutlid. Stefan Benting, een van die permanente lede, het al in meeste dele van die Kaapse Vlakte gewoon. Sy bynaam is Bboy mouse.

Charleton Eftha is lank en lig op sy voete. Sy bynaam is Lank Genoeg en hy is ook ’n permanente lid van die groep. Leeroy Phillips se bynaam is Bboy malles. Dit verwys na sy dansstyl. Hy kom en gaan soos wat hy tyd kry om saam met die groep op te tree.

Die doel van Mixed Mense is om uitdrukking te gee aan die lede se ervarings.

“Die mense back in the day het eintlik hip-hop identify met hoe om oplossings te vind en hoe om ’n voice te kry vir die mense op die Kaapse Vlakte,” het Emile gesê. “Dis kinda snaaks, want as mense kyk na die perception van hoe mense nou dink oor hip-hop versus back in the day, is dit baie anders,” het hy verder verduidelik.

Emile het so vroeg soos 1982 reeds met hip-hop betrokke geraak en het opgemerk dat hip-hop en kletsrym uitgesproke was teen die destydse politieke omgewing in Suid-Afrika. Hoewel politieke kwessies deurslag vind in baie van die lirieke, is daar ook ander invloede in die musiek soos veesviering en die verliefdheid.

Hulle nuutste album, Songs and Stories for my Son, is verlede Vrydag by The Hive in Muizenburg vrygestel. Hierdie album se lirieke is geïnspireer deur Emile se seun en bevat snitte wat lewenswyshede bevat. Van die snitte op hierdie album is gebaseer op Khoi-San verhale.

Een van die snitte op die nuwe album, “Goeie Nuus”, fokus op die goeie dinge wat uit die Kaapse Vlakte en veral Lavenderhill kom. Dit poog om die stereotipiese beeld van die Kaapse Vlakte en sy mense te verander.

Mixed Mense het nog nie ’n vaste datum vir hulle volgende optrede in Stellenbosch nie.

Foto: Verskaf

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial