Maties mag wel nog sokkie in Afrikaans

Gizellede Götz & Ingrid Heÿdenrÿch

Oproer is verlede week veroorsaak nadat Rapport berig het dat Frederik van Dyk, prim van Helshoogte, meen HK’s somtyds te bang is om Afrikaanse musiek by sosiale geleenthede te speel.

Van Dyk het egter aan Die Matie gesê dat hy nie bedoel het dat dit ’n bevel van die Universiteit Stellenbosch (US) was dat Afrikaanse musiek nie meer by amptelike sosiale geleenthede gespeel mag word nie.

“Ek sal eerder sê dat ek van eerstejaars en HK-lede gehoor het dat daar by sosiale geleenthede ’n tipe vrees onder organiseerders is om Afrikaanse musiek te speel.”

Hy het bygevoeg dat dit HK-lede in so ’n mate beïnvloed dat ’n “kastige diverse playlist, wat uit musiekgenres van verskillende kulture moet bestaan, op die ou einde glad nie Afrikaans speel nie”.

Martin Viljoen, woordvoerder van die US, het bevestig dat daar nooit aan studenteleiers gesê is dat hulle nie Afrikaanse musiek mag speel nie. Roderick Leonard, voorsitter van die Maties AfriForum-jeugtak, het egter gesê dat daar landswyd ’n antiAfrikaanse golf is wat oor kampusse spoel.

“Dit sluit die taalbeleid en taal in klasse en al daardie dinge in.”

Volgens Leonard word sokkie as een van die basispunte van die Afrikaanse kultuur beskou.

“Dit is wat ek bedoel met sokkies wat verpolitiseer raak. Ek voel dit is ’n manier om van nog ’n deel van die Afrikaanse kultuur ontslae te raak en dit moet gestop word.”

Leonard het gesê dat die AfriForum-jeugtak op Stellenbosch besluit het om ’n sokkie te reël ná hy gelees het dat daar in sekere afdelings van die universiteit beswaar gemaak word teen sokkie omdat dit uitsluitlik vir sekere groepe is.

“Toe besluit ek om te wys dat daar wel mense is wat wil sokkie, so kom ons reël ’n sokkie.”

Nelrine Beyers, prim van Lydia, glo egter dat die US nie druk op studentegemeenskappe plaas om Afrikaans te verminder nie.

“Indien daar druk is, dink ek die druk is intern en word gedryf deur mense binne die studentegemeenskappe. As iemand Afrikaans wil praat by vergaderings en byeenkomste in die koshuis, dan praat hulle Afrikaans. Een van die leiers van die koshuis sal dit dan net vertaal indien nodig. Hierdie praktyk word nie op ons forseer nie, maar indien mens sensitief is vir jou gemeenskap se behoeftes, sal die leierskapstrukture dit self identifiseer as ’n goeie middeweg
tussen tale.”

’n Inwoner van Dagbreek wat anoniem wil bly, het gesê dat Afrikaanse musiek glad nie taboe by Dagbreek se danse is nie.

“Ek dink die meeste van die bedreigings is dalk by die vrouekoshuise, omdat die politiek in vrouekoshuise meer  intens is. Hier by Dagbreek is dit nie ’n groot ding nie, dis redelik onder beheer,” het hy gesê.

Van Dyk is van mening dat studenteleiers en mense op amptelike strukture van die universiteit beter opgelei moet word.

“Ons moet kan sê ons hou voet by stuk. As ons sê ons het ’n diverse playlist, dan het ons ’n diverse playlist. Ons moet meer eerlik met mekaar wees en met baie meer klarigheid omgaan.”

Van Dyk het bygevoeg dat daar krities met die vraag omgegaan moet word oor waarom mense bang is om sekere musiekgenres te speel.

Beyers het gesê sy nie voel dat haar taal in haar koshuis bedreig word nie.

“Ek dink die rede hiervoor is eenvoudig. Ons almal weet ons tale verskil, ons almal respekteer hierdie verskille en erken dit. Wanneer ons almal saam is, respekteer ons ook die spasie en praat daarom eerder ’n taal wat almal verstaan, naamlik Engels.

“Dit beteken nie dat daar nie ’n plek vir Afrikaans is nie. Dit beteken bloot dat ek vir tien minute lank kies om my tweede taal te praat, sodat iemand vir wie Engels miskien ’n derde taal is, my ook kan verstaan.”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial