Anke van der Merwe
Ná die eerste Varsity Sportsatletiekbyeenkoms lê Maties in die vyfde plek. Tukkies, wat gasheer gespeel het vir die byeenkoms in Pretoria op 2 Maart, beklee tans die eerste plek. Pukke lê tweede, UJ derde en Kovsies vierde.
Verskeie Matie-atlete het onderling baie goed gevaar.
Wynand du Toit het die eerste plek in die 400 m behaal. Du Toit het aangevoer dat sy tye in Pretoria nie regtig verskil van sy tye in die Kaap nie.
“Die weer hierdie tyd van die jaar is bietjie beter daar bo, omdat die wind maar ’n groot invloed het op ons wedlope hier in die Kaap, veral vanjaar,” het hy gesê.
Du Toit sien uit na die nasionale senior kampioenskappe wat vanaf 15 tot 17 Maart by Tukkies plaasvind. ’n Groot naam teen wie hy al gehardloop het, is Wayde van Niekerk.
“Dit raak nie veel beter as dit, in terme van bekende atlete nie,” het Du Toit beweer. “Maar ek sal graag nog in die toekoms ’n paar wedlope teen Karsten Warholm, wat tans die wêreldkampioen in die 400 m-hekkies is, wil hardloop.”
Du toit het onlangs na hekkies oorgeskakel.
Justine Palframan het met die 200 m-wedloop die punte laat instroom. Met ’n tyd van 23.43 s, het sy 1 093 punte tot Maties se 14 700 punte bygedra. Palframan was ook na afloop van die byeenkoms as die Victrix Ludorum gekroon.
Palframan het gesê dat dit altyd opwindend en lekker is om vereer te word en dat sy baie dankbaar daaroor is. Verder het sy gesê dat dit goed voel, omdat sy haar alles gegee het.
“Ek sien uit na die volgende byeenkoms, want dit is ’n geleentheid vir almal om te wys wat in hulle steek.”
Palframan het verder beklemtoon dat die punte nie soveel saak maak as almal hulle beste gegee het nie. Janke van Wyk, een van Maties se 100 m-hekkiesatlete, het derde in haar item geëindig. Sy glo dat Maties in die huidige punteleer hoër op kan beweeg.
“Ons het baie talentvolle atlete wat baie hard werk om daardie verandering teweeg te bring,” het Van Wyk gesê.
Tukkies het wel die tuisvoordeel volgens Van Wyk. “Die vlak van ondersteuning is net soveel meer as ’n mens by jou eie universiteit se baan deelneem. Dit gee beslis ’n ander tipe gevoel as jy weet jou eie universiteit se studente is daar
om jou te ondersteun.”
Van Wyk het egter bygevoeg dat hulle dit geniet om “daar bo” te hardloop. Sy meen die hoogte bo seespieël het ’n invloed op hul tye.
“Dit is altyd lekker om daar deel te neem en potensieel-vinniger tye tehardloop.”
Die finale byeenkoms van die 2018 Varsity Atletiek-reeks vind op 23 Maart weer by Tukkies plaas.
Foto: Maties Sport