Laura Wolvaardt het op vyfjarige ouderdom reeds krieket saam met haar seunsmaats begin speel en tot haar verbasing het sy heeltemal verlief op die sport geraak. Vandag, op 18-jarige ouderdom, is sy die openingskolwer vir die Protea-vrouekrieketspan en het sy reeds rekords gebreek. Annerine Snyman het met haar gesels oor haar loopbaan tot dusver en wat haar doelwitte vir die toekoms is.

Laura het nog altyd krieket gespeel bloot vir die liefde wat sy daarvoor het. Sy het nooit geweet dat sy dit professioneel sou kon beoefen nie, maar het dit beskou as ’n ontspanningsoefening tussen haar skoolwerkdeur.

Sy het egter besef hoe ernstig haar krieketloopbaan geword het, toe sy twee jaar gelede, op 16-jarige ouderdom, vir die Protea- vrouekrieketspan gekies is.

Sy het op 11-jarige ouderdom haar eerste provinsiale blootstelling gekry toe sy vir die WP o/19 vrouespan gekies is. Twee jaar later is sy vir die Suid-Afrikaanse o/19 span gekies en op 14 het sy haar debuut vir die WP- vrouespan gemaak.

“Om krieket te speel is tot vandag toe nog my gunsteling ding om te doen,” het Laura verduidelik.

Hierdie liefde word duidelik weerspieël in die manier hoe sy die spel aanpak. Sy het op 17 Februarie ’n wêreldrekord verbeter in ’n wedstryd teen Indië. In hierdie wedstryd het sy die jongste vrouekrieketspeler nóg geword om 1 000 lopies in eendagwedstryde aan te teken. Dit het sy op 18 jaar en 290 dae bereik.

Sy is egter beskeie oor hierdie prestasie en het verduidelik dat sy nie werklik anders voel nadat sy dit bereik het nie.

“Ek speel nie wedstryde vir die individuele rekords nie. Ek speel om vir my span te wen. Ek was hoofsaaklik net bly om te sien dat ek in die regte rigting met my krieket beweeg en bydra tot die span.”

Hoewel Laura haarself nog as ’n jongeling in die krieketwêreld beskou, hoop sy om ander jong meisies wat moontlik ook krieket wil speel te inspireer.

“Mense praat altyd daarvan om die sport in ’n beter plek te los as wat jy dit gekry het. So ek hoop ek kan soveel goed as moontlik in krieket doen. Hopelik kan ek eendag ’n groot verskil maak,” het sy gesê.

Sy het verder verduidelik dat sy en haar spanmaats baie bewus daarvan is dat vrouekrieket aan die toeneem in Suid-Afrika is en dat dit wat hulle nou bereik noodsaaklik is om jong meisies te motiveer om krieket te speel.

Laura het vanjaar aan haar MBChB-graad begin studeer, maar sy is ’n spesiale onderbreking in haar studies deur die universiteit gegun. Dit beteken dat sy vanjaar ten volle op krieket kan fokus, maar steeds volgende jaar kan voortgaan met haar studies.

Hierdie toegewing beteken vir haar baie, veral omdat sy glo dat om sport op daardie vlak te beoefen, nie oornag gebeur nie.

“Dit is ’n proses van jare se skoolkrieket, klubkrieket, provinsiale krieket en om nuwe dinge te leer van nuwe afrigters en om vir ure aaneen te oefen.”

Laura dra egter grotendeels haar sukses aan haar “fantastiese” ondersteuningstruktuur op, wat sy glo uiters belangrik vir enige topatleet is. Sy het verduidelik dat haar ouers veral ’n groot rol ten opsigte van ondersteuning speel.

“Toe ek grootgeword het, het my ouers my na elke krieketoefening toe geneem en hulle doen dit nou nog,” het sy geskerts. “Hulle motiveer my en ondersteun my in elke besluit wat ek maak. Hulle wil net die beste vir my hê,” het sy bygevoeg.

Laura het verduidelik dat een ding wat meeste mense nie van haar weet nie, is dat haar ma van Belgiese afkoms is en dat hulle tuis ’n mengsel van Vlaams en Afrikaans praat. Sy het verder bevestig dat sy vele talente het deur uit te wys dat sy lief is daarvoor om kitaar te speel en dat sy gereeld haar eie liedjies skryf en opneem.

Oor haar trotste oomblik, het Laura weereens veel oor haar span te sê gehad en hoe hulle onder druk, op ’n hoe vlak steeds presteer het.

“In Junie [verlede jaar] het ons die semi-finaal tydens die Wêreldbeker gehaal. Alhoewel ons teleurgesteld was dat ons nie die finaal gehaal het nie, is ek ongelooflik trots op hoe die span die wedstryde gespeel het.”

Laura hoop om hierdie jaar haar beste krieket nóg te speel en soveel as moontlik wedstryde vir haar span te help wen. Sy het ook verduidelik dat aangesien sy volgende jaar weer geneeskunde wil aanpak, sy hierdie jaar haar krieket sal moet laat geld.

Sy beklemtoon ook dat krieket al baie vir haar in haar lewe gegee het.

“Ek het al na ongelooflike plekke gereis, vriendskappe begin wat ’n leeftyd sal hou en oomblikke onder druk beleef, waar ek dit nêrens anders sou beleef nie,” het sy gesê en bygevoeg dat sy soveel meer van haarself as ’n krieketspeelster, maar ook as ’n mens geleer het.

Die raad wat sy graag met ander mense wil deel, is om elke wedstryd te speel asof dit hul laaste een is.

Foto’s: Verskaf