Latest Post

A sense of belonging for Victoria Cluster Glaskas: Volstoom Vooruit! Earth Week: SU takes on Sustainability Maties rowing exceeds expectations at USSA-R sprints

Anke van der Merwe

Die 2018 koshuishokkie-somerliga was veronderstel om die 12de Maart af te skop, maar is egter uitgestel weens die astro-bane wat onvoltooi is. Slegs een baan was al teen 11 Maart voltooi.

Volgens aanvanklike beplanning deur Maties Sport moes die tweede astro-baan se matte in die week van die 12de Maart gelê wees. As gevolg van koeler weer, kon die matte egter nie gelê word nie.

Die eerste rondte van die somerliga moes al teen 23 Maart afgehandel gewees het. Aangesien die liga nog nie begin het nie, is die hele jaar se wedstryde aangeskuif. Die gewilde Day and Night-toernooi is ook tot verdere kennisgewing uitgestel.

Scharlize Crafford, verbonde aan Maties Hokkie, beweer dat die winterliga moontlik eers in die derde kwartaal gaan begin. Die koshuisliga sal eers na die reses kan plaasvind. Crafford meen daar is nou baie druk om die regte besluit te maak.

“Ek moet besluit wat die beste sal wees. Gaan ons nou met die somerliga aan of begin ons met die winterliga en laat die somerliga eers in September begin?”

Tans word die een voltooide astro-baan deur onder andere skole en Maties se 12 hokkiespanne gebruik. Maties Hokkie en Paul Roos het op 19 Maart daarop begin oefen.

“Met 12 Matiesspanne is dit moeilik om plek vir almal te maak. Daar is omtrent nie plek vir koshuishokkie nie, maar ons gaan definitief speel,” het Crafford bygevoeg.

Die werk aan die astro-bane is in November verlede jaar begin. Intussen het Maties Hokkie by verskillende skole, soos Renish, Bloemhof en Bridge House, geoefen. Die grasvelde is ook nie beskikbaar nie. Weens die waterkrisis is daar geen water om die gras na die wedstryde te laat herstel nie.

“Die gras is omtrent net grond op hierdie stadium,” het Crafford gesê. “So die opsie bestaan nie eers om daarop te speel nie.”

Daar sal binne die volgende paar weke finaal besluit word wanneer die koshuisliga amptelik gaan begin. Registrasie vir die winterliga bly nog gesluit en die datum sal later bepaal word.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial