Latest Post

Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights Neon Dreams lights up South Africa

Anke van der Merwe

By die onlangse UCIbergfiets-wêreldbeker wat by Coetzenburg plaasgevind het, het toeskouers elkeen ’n koeiklok
gekry waarmee hulle die fietsryers aangemoedig het. Die geleentheid het verlede naweek plaasgevind.

Die cheer cowbell is handgemaak as deel van Qhubeka se Work to earnprogram. Elke keer as daar ’n fietsryer verbygery het, het die toeskouers met baie entoesiasme hulle klokke gelui.

Die Matie-fietsryklub was veral oorspronklik en hulle het verskeie toestelle gebruik om geraas te maak, onder andere ’n kettingsaag.

Daar was ook groot opspraak toe die verdedigende kampioen en gunsteling om te wen, Nino Schurter
(Switzerland), tweede geëindig het en Samuel Gaze (Australië) die goue medalje in die elite mans-kategorie opgepik het.

Vir Petter Fagerhaug (Noorweё) was die koel Stellenbosse middag perfek en hy het die o/23 manskategorie gewen.
Annika Langvad (Denemarke) het by die elite vroue-kategorie eerste oor die wenstreep gery. Die gunsteling Sina Frei (Switserland) moes kyk hoe Malene Degn (Denemarke) voor haar oor die wenstreep ry by die o/23 vroue kategorie.

Die deelnemers het verlede week kans gehad om op die baan te oefen, asook kort voor die resies vir opwarming. Die kameramanne het die oefenlopies gebruik om by die steil Coetzenburg bulte en slote op te hardloop vir die beste paparazzigeleenthede.

“Om in dieselfde resies as Olimpiese kampioene soos Nino Schurter en Julian Absalon te kan deelneem, is ’n baie spesiale ervaring, maar ek sien ook daarna uit om teen die ander Suid-Afrikaners mee te ding,” het Gert Heyns, ’n Matie, vooraf gesê.

Die 4.3 km-baan was van ’n baie hoë standaard en het baie internasionale lof gekry. Met name soos “Puff adder”, “Varsity Drop Out”, “Wine Barrel” en “Howzit”, was dit beslis ’n goeie Suid-Afrikaanse ervaring.

By die tegniese dele was daar ongeveer 180 m per rondte klim. Toeskouers het self hul oefening van die dag gekry. Daar was rondgehardloop om die groot en gunsteling name te volg. Daar was goeie geleenthede vir almal om hul gunsteling helde te sien.

Die baan was so ontwerp dat daar genoeg plek was vir almal om alles te kon sien. Die toeskouers was heeltyd deel van die aksie en daar het ’n baie gesellige gees geheers. Gesinne het koelbokse en kampstoele gebring, en selfs ’n paar vriendelike honde het ’n draai kom maak.

Dit was deur Grandstand Management georganiseer, die span agter die bekende Absa Cape Epic. Die ontwerper, Nick Floros, en bouer, Corrie Muller, is beide groot name in die bergfietsry-kringe.

Die Absa Cape Epic vind hierdie naweek plaas en die wedren is deur sommige fietsryers as voorbereiding gebruik.

Foto: Frederik Heroldt

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial